Kommer oor klein begroting vir dienslewering

RAADSLEDE van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit het op Woensdag, 16 Mei ’n openbare vergadering met die belastingbetalers, besigheidsforum en plaaslike boere-unie van Wyk 9 gehou waartydens die konsepbegroting van IYM vir 2018/19 voorgelê is.


RAADSLEDE van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit het op Woensdag, 16 Mei ’n openbare vergadering met die belastingbetalers, besigheidsforum en plaaslike boere-unie van Wyk 9 gehou waartydens die konsepbegroting van IYM vir 2018/19 voorgelê is.

Raadslid Sibongile Masawe, hoof van finansies, het teenwoordiges verwelkom: “Ons waardeer almal se insette en bydraes en ons moedig julle aan om ook kommentaar op dié konsepbegroting te lewer.”

Middelburgers is veral ontevrede met die feit dat IYM-werknemers se salarisse met 10% verhoog word. Dit beteken dat 31% van die totale begroting aan salarisse bestee word, terwyl slegs 1.3% van die begroting vir herstelwerk en onderhoud aangewend sal word. ’n Totaal van R89 miljoen word aan salarisse uitbetaal, terwyl R4 miljoen aan die herstel van paaie, sypaadjies, slaggate, stormwaterslote en ander dringende herstelbehoeftes bestee sal word.

Die munisipaliteit het aangekondig dat hulle ’n skut gaan heropen ten einde ontslae te raak van die beeste en bokke wat onwettig in die dorp wei. Hulle het ook onderneem om meer grond te beding vir plaaslike meentboere in ’n poging om diere uit die strate te verwyder.

Op ’n versoek vanuit die gehoor om aan te dui presies wanneer die skut in werking gestel sal word, kon die munisipaliteit egter nie antwoord nie.

Ander probleme wat deur belastingbetalers tydens die vergadering geopper is, was die gebrekkige polisiëring van buitelandse besighede in Meintjiesstraat, sowel as sjebeens en informele kerke wat selfs gedurende skooleksamens tot die vroeë oggendure hulle skuldig maak aan rusverstoring.

“Ons kan nie verwag van toeriste om in ons plaaslike gastehuise oor te slaap, terwyl hulle geen rus gegun word nie,” het ’n belastingbetaler, wat anoniem wil bly, aangevoer. Die munisipaliteit het onderneem om plaaslike wetstoepassingsoffisiere aan te stel om hierdie probleme aan te spreek. Hulle kon egter weer eens nie aandui wanneer hierdie beplanning ’n realiteit sou word nie.

IYM beplan ook ’n nuwe inisiatief in 2018/19, genaamd “Clean Ward Competition” waarin inwoners en besighede aangemoedig sal word om die dorp en woongebiede te verfraai.

Engela Kruger, voorsitter van Middelburg se sake-en-belastingbetalersforum, het hierdie inisiatief verwelkom en die forum se samewerking hiermee verklaar.

Die munisipale bestuurder, Xolela Msweli, het ten spyte van inwoners se ontevredenheid oor dienslewering, hulle aangemoedig om munisipale rekeninge op datum te hou. Die verrigtinge is nie deur die burgemeerster van IYM, Ray Shweni, bygewoon nie.

  • Intussen het Ratings Afrika vroeër die week aangekondig dat IYM as die swakste munisipaliteit in die Oos-Kaap vir die 2017 aangewys is.

You need to be Logged In to leave a comment.