Kommer oor water- en sanitasie-krisis

DIE “onbevoegdheid” van die Chris Hani-distrikmunisipaliteit was die fokus van ’n openbare vergadering van die Concerned Community Forum (CCF) wat op Woensdag, 14 Maart in die Midros-gemeenskapsaal in Middelburg plaasgevind het.


DIE “onbevoegdheid” van die Chris Hani-distrikmunisipaliteit was die fokus van ’n openbare vergadering van die Concerned Community Forum (CCF) wat op Woensdag, 14 Maart in die Midros-gemeenskapsaal in Middelburg plaasgevind het.

Belastingbetalers is deur Neil Muller, Middelburg se verteenwoordiger, en Willie Liebenberg, voorsitter van die CCF, toegespreek.

Volgens Liebenberg het toestande in die gebied drasties agteruit gegaan sedert dié munisipaliteit die alleenverskaffer van water en sanitasie geword het. Hy het voorts gesê dat die oorname sonder deelname van die 15 gemeenskappe wat daardeur geraak is, gebeur het.

“Duisende stukkende watermeters, gebrek aan sanitasie en wanbestuur van finansies is slegs enkele van die kwessies wat op elke vergadering tussen die CCF en Chris Hani-distrikmunisipaliteit opgehaal word,” het Liebenberg gesê.

“Ten spyte van beloftes, word daar feitlik geen daadwerklike pogings aangewend om enige van die geopperde probleme op te los nie. Substandaard watermeters is wel aangekoop, maar dit het sake geensins verbeter nie aangesien vasgestel is dat hierdie meters ook lug as waterverbruik meet. Wanneer die munisipaliteit dan aan die watersisteem werk en lug die pype binnekom, word belastingbetalers ook daarvoor aangeslaan.”

Tans het die Chris Hani-distrik nie ’n werkbare rekeningsisteem nie omdat die infrastruktuur (stukkende meters en lekkasies) nie herstel word nie.

Goeie nuus vir belastingbetalers is dat alle ou rekeninge wat voor Julie 2017 dateer voorlopig opsy gesit is. Die “rekeninge” wat tans uitgestuur word, is egter steeds tegnies nie rekeninge nie, aangesien geen kiloliterverbruik of ander spesifikasies daarop aangedui word nie.

“Wetsgehoorsame belastingbetalers is tans in ’n moeilike posisie omdat plaaslike kantore van Chris Hani nie altyd kwitansies uitgee vir kontantbetalings nie en elektroniese betalings wat aan hulle gedoen word, reflekteer nie op nuwe “rekeninge” nie. Alhoewel Chris Hani jaarliks miljoene rande ontvang van die regering, word dit nie vir die verbetering van basiese infrastruktuur aangewend nie,” het Liebenberg gesê.

Luidens Muller kan wanbestuur en wanbesteding binnekort rampspoedige gevolge vir inwoners inhou.

“Dit strek ons tot groot kommer dat ook die volhoubaarheid van elke dorp se waterbronne, sowel as die kwaliteit van die water, deur Chris Hani-distrikmunisipaliteit hanteer word. Geen gemeenskap kan voortbestaan sonder skoon water en ’n behoorlike sanitasiestelsel nie. Dit is ’n basiese mensereg, en Chris Hani-distrikmunisipaliteit bewys hulself as onbevoeg om hierdie diens te lewer,” het hy gesê.

Muller het belastingbetalers van Mid-ros, KwaNonzame en Middelburg aangemoedig om by die CCF aan te sluit. Vir meer inligting, bel Engela Kruger tydens kantoorure by 049 842 3552.

  • Verskeie pogings om Phumlani Libala, woordvoerder van die Chris Hani-distrikmunisipaliteit, te kontak was onsuksesvol.

You need to be Logged In to leave a comment.