Die frustrasie van konstante kragonderbrekings wat breiers letterlik in die steek laat, het tot ’n vernuftige uitvinding gelei: Breipenne wat kan aanhou klik in die donker, want daar is ingeboude liggies aan die penne!
Op Cradock by Ansunique, ’n winkel in die Hildegard- gebou in Frerestraat, vertel winkelassistent Mari Marè besoekers graag van dié breinaalde.
“Ons eerste besending is byna uitverkoop en ons moes nog be-stel,” sê Mari.
Volgens haar is die “ontdekking” van die breinaalde met liggies gedoen toe een van die mede-eienaars, Monique Coetzee, vooraad in Johannesburg gaan aankoop het.
“Elke naald het aan die agterkant drie klein batterytjies wat lyk soos horlosiebatterye.
“Aan die voorpunt van die naald, net voor die skerp punt, is daar ‘n klein gloeilampie wat die lig verskaf en brei in die donker makliker maak,” sê Mari.
Die Ansunique-winkel is die inisiatief van twee ondernemende vroue, Ansu du Plessis en Monique Coetzee.
Hulle het die geleentheid in die mark gesien nadat Hester Pretorius, wat die enigste wol- en materiaalwinkel op Cradock gehad, weens COVID-19 gesterf het.
By Ansu en Monique se winkel is daar ’n groot verskeidenheid wol, katoenhekel- en breigare, allerhande kuns- en naaldwerkbenodighede, toerusting vir handwerk en kunsprojekte so-wel as oulike geskenkies.