INXUBA Yethemba-munisipaliteit (IYM) het ’n ernstige waarskuwing aan verbruikers van elektrisiteit in Cradock en Middelburg, wat moontlik met hul kragmeters gepeuter het, gerig.
Volgens ’n omsendbrief van die munisipale bestuurder, word ’n amnestietydperk tot 30 Junie toegelaat voordat daar streng teen hierdie oortreders opgetree sal word. Dit sluit ook die eienaars van huise in Michausdal en Hillside in.
Indien daar enigsins met die seëls aan elektriese meters gepeuter is, of indien die meter geen syfers toon nie, of elektriese draad buite om die meter gekoppel is, sal die verbruiker vanaf 1 Julie vanjaar met R6 000 beboet word. Enige van die bogemelde probleme moet voor 30 Junie by die munisipaliteit se tegniese dienste kantore op Cradock en Middelburg aangemeld word om die boete vry te spring.
Die amnestietydperk tot 30 Junie sluit ook die rimpelkontrole-afska-keling (“ripple control relays”) by alle huise waar geisers geïnstalleer is, in.
Volgens Alan Ahlschäger, bestuurder van tegniese dienste, word hierdie kontrolestelsel tans in Middelburg geïnstalleer, terwyl dit al vir ’n paar jaar op Cradock in werking is.
Hy het verduidelik dat die verbruik van elektrisiteit, veral in die winter wanneer die aanvraag hoog is, so gereguleer kan word dat IYM nooit hul maksimum van agt mega watt oorskry nie.
“Indien 8 MW oorskry word, moet ons he-wige boetes aan Eskom betaal,” het hy gesê.
Met hierdie toestel, wat aanvankik gratis in die Cradock-gebied geïnstalleer is, word geisers in tye van hoë aanvraag outomaties in blokke van omtrent 20 huise, vir ongeveer ’n halfuur afgeskakel. Ná dertig minute kom die geisers weer aan en word ’n volgende blok afgeskakel.
“Hierdie stelsel word ten volle deur ’n rekenaar beheer en verbruikers is gewoonlik nie eers van die afskakeling bewus nie,” het Ahlschläger verduidelik.
Hy het ook gesê dat die munisipaliteit daarna strewe om alle verbruikers op die kontant koopstelsel vir elektrisiteit oor te skakel.
“Hierdie stelsel sal bespaar op meterlesers en ook verbruikers die geleentheid gee om self hul verbruik te kontroleeer,” het hy verduidelik.