Ksenia Duvenhage, ’n seën uit die verre

REEDS met ons eerste ontmoeting drie jaar gelede, is daar vir my iets bekends aan Ksenia Duvenhage.


REEDS met ons eerste ontmoeting drie jaar gelede, is daar vir my iets bekends aan Ksenia Duvenhage.

In ’n ommesientjie gesels ons land en sand oor suiwelprodukte en pasteurisasiemetodes – Ksenia en haar man Stefan bedryf die bekende Duvan’s Melkery in Middelburg.

Besoekers aan Middelburg word gou-gou ingelig deur ’n ieder en elk dat Ksenia se fetakaas die beste in die dorp is. Ksenia bely dat sy, ten koste van haarself, bietjie van ’n beheervraat is, en dat sy verkies om meeste van die produkte wat die melkery verkoop self te maak. “Ek gebruik ook net die allervarsste melk wat pas gemelk is – op dié manier hou die pro-dukte langer, en omdat ek my produkte so natuurlik as moontlik hou, kan ek minder preserveermiddels gebruik.”

Op die koudste Maandag wat daar nóg die winter was, kuier ek by Ksenia aan’t huis. Ons drink rooibostee en gesels oor haar geboorteland Siberië; haar destydse beroep as Engels-onderwyseres wat sy baie geniet het; en haar passie vir ’n lewe na aan die na-tuur. Dis duidelik dat haar ma en ouma ’n sterk invloed op haar kennis van kruie en aroma’s gehad het, en sy vertel in kleur hoe hulle saam in die natuur na spesifieke plante gaan soek het, en dat elke plant ’n spesifieke tyd van die jaar én tyd van die dag geoes moet word.

Dié kennis kom vandag handig te pas, want Ksenia het so vyf jaar gelede met seepmakery begin, en hoewel sy aanvanklik net eenvoudige seep vir haar gesin gemaak het, het die gogga gebyt! Toe sy haar seepkamer oopsluit, is ek onmiddellik in vervoering oor die lieflike reuke wat in my neus opstuif. Sepies soos kolwyntjies, kof-fieseep, gesigrome en serums is net- jies uitgestal in klein groepies. “Of ek nou met seep of suiwel werk, ek maak in klein maat. Dis seker moontlik om besigheid uit te brei, maar dan boet mens so maklik in op gehalte. My babaseep met kamille en calendula is baie gewild onder kliënte met sensitiewe velle, sowel as my steenkoolseep vir akneevelle.”

Ksenia se vel is die perfekte getuigskrif van die krag van haar skoonheidsprodukte: glad en rosig soos haar tienerdogter s’n. Terwyl ons kuier, neem ek foto’s van die sepies, met die belofte dat sy later vir my ’n foto van haarself sal stuur. Ons groet bibberend, en ek lag oor ons Karoowinters wat eintlik soos ’n Sondagskoolpiekniek is in vergelyking met Siberië s’n.

Enkele dae later arriveer die foto op my selfoon, en tóé onthou ek waar ek Ksenia al gesien het: in my ouma Marie se gang het daar ’n klein goue raampie gehang, en daar binne, op swart-swart fluweel, vyf wit edelweiss-blommetjies wat Ouma in Switserland gekoop het. Maar Switserland is nie Siberië nie, en nuuskierig gaan Google ek “Siberian Edelweiss” en jou waarlik, dit bestaan rêrig!

Nou glo ek ook nie meer in toeval nie. Later die aand smeer ek van Ksenia se oogroom aan my Karooplooi- tjies, en sing “blossom of snow, may you bloom and grow,” en “bless my homeland forever!”.

You need to be Logged In to leave a comment.