LEDE van die Tuinbou-en-Leefstylklub op Somerset-Oos het onlangs die kunstenaar Lizma Schoeman by haar huis besoek om meer van haar lewe en haar kunswerke te leer.
Lizma is aan ’n rolstoel gekluister nadat sy in Londen gediagnoseer is met sistemiese Lupus – ’n outo-immuunsiekte wat verlamming veroorsaak. Ná rehabilitasie in Londen het sy na Somerset-Oos teruggekeer waar sy vir vyf jaar lank ’n fisiese en geestelike stryd gevoer het.
In haar soeke vir hulp het sy by menige ghoeroes en terapeute om hulp aangeklop.
“My soektog was baie lank, frustrerend, maar tog ook interessant.”
Uiteindelik het sy by ’n uitstekende homopaat in Pretoria beland, sowel as ’n vroulike terapeut met “helende hande” in Port Nolloth. Vir die afgelope 10 jaar is haar siekte in remissie.
Terug in Somerset-Oos op 25-jarige ouderdom het sy haar studies by Unisa begin net om weer menswaardig te voel en nie net op haar siekte te fokus nie.
Sy was by ’n werkswinkel van Petra Stingling en daar kom ’n totale ommekeer in haar psige – sy voel soos “Van Gogh se dogter”. Sy het geweet sy wou verf en met kleure werk en het hierop begin fokus. Sy het drie jaar gelede haar eerste uitstalling by die Van Loveren-wynlandgoed in Robertson gehou wat vir haar goeie blootstelling was. Van haar skilderye hang in die Karoo Kunshotel in Barrydale.
“As ek nou terugkyk hoe my lewe verloop het, is ek dankbaar vir al die wonderlike mense wat op my pad gekom het, dankbaar vir die lewenskennis en kennis oor myself wat ek opgedoen het.
“Ek moes deur al die uitdagings werk sodat ek my passie vir kuns kon ontdek en is innig dankbaar dat ek nie bedlêend is nie en dat ek die volle gebruik van my hande het. Ek sien uit na elke dag, want in elke dag wag daar êrens iets uitsonderliks.”