TYDENS die jaarlikse kleure-gala op Dinsdag, 13 Februarie was die leerders van die Hoërskool Cradock die geleentheid gegee om hul slag in die water te wys en die Kwaggas het dié kans met albei hande aangegryp om ’n verfrissende middag in die water te spandeer.
Besoekende leerders van die Laerskool Cradock, sowel as die Hoër Landbouskool Marlow het ook saam gekuier en geswem en bygedra tot die feestelike atmosfeer wat langs die swembad geheers het.
Theuns van der Nest en Imogen van Rooyen was die twee uitblinkers op die dag en het onderskeidelik die titels van Victor en Victrix Ludorum verower.
Die rooispan het ook geseëvier en met 160 punte teenoor 132 met die blouspan afgereken. Tussendeur die formele items op die program kon leerders ook deelneem aan ’n paar informele items, naamlik die 25m stap, binneband resies sowel as T-hemp aflos.
Leerders het hulself behoorlik geniet en tesame met die pragtige tye wat CHS, CLS en die manne van HLM opgestel het, is dit duidelik dat die Karoo-leerders die waarde van watersport ten volle verstaan.