Kyk so ’n sonkar!

SONKRAG-AANGEDREWE voertuie van-oor die hele wêreld sê mekaar tans die stryd aan tydens die Sasol Solar Challenge (SSC) wat van 22 tot 29 September plaasvind.


SONKRAG-AANGEDREWE voertuie van-oor die hele wêreld sê mekaar tans die stryd aan tydens die Sasol Solar Challenge (SSC) wat van 22 tot 29 September plaasvind.

Vanjaar het vyf Suid-Afrikaanse spanne by die wegspringplek aangetree, saam met spanne uit Hong Kong, Japan, Switzerland en Nederland. Anders as met ‘n gewone “resies”, is die maatstaf van die Sasol Solar Challenge nie tyd nie, maar afstand, en elke span poog om daagliks die grootste moontlike aantal kilometers af te lê tussen die vertrek- en eindpunte.

Tydens dag vier en vyf kon inwoners van die Groot Karoo deel hê aan die Sasol Solar Challenge. Dinsdag het die sonkarre die vierde skof aangepak toe hulle in uiters winderige toestande die roete vanaf Gariepdam, via Middelburg tot in Graaff-Reinet aangedurf het. Leerders van Hoër- en Laerskool Middelburg is deur die opvoedkundige span van SSC vermaak met musiek, speletjies en uitdagings waartydens hulle pryse kon wen. Dit was nie die eerste keer wat internasionale spanne soos dié van Nederland en Japan tydens ‘n SSC in Middelburg aandoen nie, en dit was duidelik dat albei dié spanne groot plaaslike ondersteunersgroepe het. Ten spyte van die wind en bewolkte weer wat spanne tot die uiterste beproef het, het hulle moeite gedoen om vir foto’s te poseer of ‘n geselsie aan te knoop met van die leerders.

Daar is ongelukkig nie plek vir ‘n passassier in die kajuit van ‘n sonkar nie, maar ter wille van padveiligheid word elke sonkar van voor en agter deur spanvoertuie beskerm. Mid-Karoo Express se korrespondent het die voorreg gehad om die Tokai-span (Japan) in een van dié begeleidingsvoertuie te vergesel op ‘n klawerroete buite Middelburg. Dit was baie interessant om te sien hoe geweldig baie tegnologie dié span gebruik om hulle in staat te stel om een van die topspanne ter wêreld te wees. Rondloperdiere het so byna-byna dié span hul deelname aan die Sasol Solar Challenge gekos toe die leivoertuig en sonkar ‘n trop bokke op die pad net buite die dorp rakelings gemis het.

Ook in Graaff-Reinet is leerders en toeskouers vermaak deur die energieke opvoedkundige span. Tokai het as die dag se wenners weggestap nadat hulle met ‘n totale dagafstand van 471 km, ‘n voorsprong van 36km teen die 435km van die verdedigende kampioene, Nuon, opgebou het.

Woensdagoggend het die konvooi om 7:30 vertrek van die Groot Kerk af, in Jansenville aangedoen en geëindig in Port Elizabeth, vanwaar die roete hulle nog na Sedgfield en Swellendam sal neem. Die uitdaging eindig Saterdag in Stellenbosch, en die prysuitdeling word Sondag in Kaapstad gehou.

  • Lees nog ’n berig op bl. 5.

Japan

You need to be Logged In to leave a comment.