GRAAFF-REINET en feesgangers van naby en ver het die afgelope naweek die Karoo-lus met goeie gees gegroet.
Die laaste Karoo-lus het van 28 tot 29 September plaasgevind. Daar was gekuier van vroeg tot laat en bekende sangers soos Leah, Emo Adams, Fatman, Snotkop en The Parlotones het die skare op hulle voete gehad.
Die wildveiling het baie kopers gelok en was ook ’n groot sukses. Die botaniese rugbyveld waar die Karoo-lus fees plaasgevind het, was vol stalletjies.
Verskeie aktiwiteite, soos boere sport en selfs ’n Karoo-oester-eet-kompetisie, wat deur Thys van Rooyen gewen is, het die gehore vermaak.
Meer as 50 veteraanmotors het ook deel van die program gevorm, terwyl allerlei handgemaakte en interessante produkte ook die oog getrek het.
Die gemeenskap het die fees baie geniet en die borge, Montego Pet Nutrition, het dit as ’n groot sukses beskou.
Die fondse wat tydens die fees ingesamel is, gaan gebruik word om ’n plaaslike skoolkoshuis op te knap.
Graaff-Reinet se mense het Montego bedank vir die afgelope 10 jaar se Karoo-lus feeste.