DIE vlag by die Laerskool Cradock hang halfmas nadat een van hul geliefde onderwysers op 1 Maart haar stryd teen kanker ná sewe jaar verloor het.
Karin Odendaal (61) was die skool se gr. 4-onderwyser en het ’n passie vir wiskunde gehad. Sy het verskeie leerareas aangebied en was ’n lid van die personeel vir 34 jaar. Odendaal het ook in 2015 die departementshoof geword.
Volgens Marietjie Maree, die skoolhoof, was Odendaal selfs gedurende haar siekte baie positief en het sy nooit haar liefde vir die kinders en passie vir onderwys verloor nie.
“Sy was passievol oor die skool en haar afwesigheid laat ’n groot leemte,” het Maree gesê.
Odendaal het gedurende haar loopbaan netbal afgerig en was gereeld ’n beampte by atletiekbyeenkomste waar sy baie betrokke by die hoogspring-items was.
Volgens Maree was Odendaal ’n baie geliefde en bekende persoon in die gemeenskap. Dit was onder haar leiding dat die skool se AB du Toit-saal in 2016 tot groot voordeel van die skool en die plaaslike gemeenskap opgeknap is.
“Sy het ’n besondere gawe gehad om mense te laat inkoop in sake,” het Maree bygevoeg.
Sy word oorleef deur haar man, Douw, ’n onderwyser by die Hoër Landbouskool Marlow; ’n dogter, Christine, wat saam met haar man in Skotland woon met hul twee kinders, Kari (7) en Daniel (5); en ’n seun, Henk, wat saam met sy gesin in Stellenbosch woon. Hulle het ook ’n dogtertjie, Lienke (2).
’n Troosdiens vir Odendaal sal môre (9 Maart) in die NG Kerk Cradock-Noord om 12:00 plaasvind. Die Laerskool Cradock sal Vrydag vir die dag gesluit wees.