OP Donderdag, 31 Januarie, het leerders van die Laerskool Cradock, in samewerking met ouers van die NG Kerk Cradock Noord en ds. Attie van Wyk ’n baie geslaagde Jeug in Aksie-byeenkoms gehad.
Terwyl die sluise bokant die Laerskool oopgemaak is, het ongeveer 85 leerders die ge-leentheid bygewoon.
Gewapen met ’n potlood, koffiebeker en kussing was dié seuns en meisies slaggereed vir aksie. Die samesyn is begin met ’n spele-tjie wat ook as inleiding vir die boodskap ge-dien het.
Die leerders is in groepe van 15 elk verdeel. Elke groep het vyf merkers ontvang. Die doel was om te kyk watter groep hul merker die hoogste teen die Muirsaal se muur kan plak.
Onder die wakende oë van Albré Nortjé en Jessie Pretorius, personeellede van die skool, het die leerders baie gou planne gemaak en unieke strategieë is gevolg, soos die kortste leerders wat op die langste leerders se nekke gesit het met die res van die groep wat ondersteun het.
Leerders is selfs deur die sterker manne teen die muur uitgestoot.
’n Tweede aktiwiteit het gevolg waar van die leerders in elke groep ’n nota ontvang het, soos “Jy is blind stom doof. Jy kan net eenbeentjie spring.”
Die res van die groeplede moes dan help om hul maats van punt A na punt B te bring. Groot was die opgewondenheid toe Van Wyk kamstig sy bewussyn verloor en ook vervoer moes word.
Hier het die leerders besluit dat dit makliker was om hom oor die vloer te sleep as te dra.
Die boodskap aan die leerders was “As ons mekaar gaan help en ondersteun, kan ons as ’n groep baie meer bereik as wat ons elkeen alleen wil probeer. Gee om vir mekaar en wees altyd op die uitkyk waar, hoe en wanneer ons ander kan help.”
Die aand se byeenkoms is afgesluit met ’n groot bederfie deur die Jeug in Aksie se ouers, Nadine Barkhuysen, Eliska Booysen, Monique Coetzee, René Kotze en Reana le Roux.
Hulle het die leerders met heerlike warm sjokolade op dié koel, reënerige laatmiddag bederf.
Te oordeel aan die glimlaggende gesiggies, is dié Jeug in Aksie uitreik ’n móét op die kwartaalprogram.