ARMOEDE sal nooit uitgeroei word as die jeug nie betrokke raak by die landboubedryf nie, sê Mlibo Qobosiyane, die Oos-Kaapse LUR vir landelike ontwikkeling en grondhervorming.

Ná ’n vergadering in Oos-Londen met die Oos-Kaapse tak van die SA-jeugraad het hy gesê die regering wil die jeug bemagtig om die nodige vaardighede te behaal en vir hulle die grond wat landbou-ondernemings selfonderhoudend sal kan maak, te bekom.

“My departement wil gevolglik met die jeugraad saam werk om groot getalle jongmense na die landboubedryf toe te lok.

“Die aantal jongmense in dié bedryf is tans kommerwekkend laag. Dit is noodsaaklik dat die jeug aktief betrokke raak in landbou om te baat by die moontlikhede wat die sektor bied,” het hy gesê.

Ceduma Mbongxela, provinsiale leier van die SA jeugraad in die Oos-Kaap, het gesê landbou is die sektor wat die jeug se eie groei en ontwikkeling kan bevoordeel en kan bydra daartoe dat hulle selfonderhoudend kan word.

“Dit is een van die bedrywe waar vaardighede baie belangrik is en die jeug behoort midde-in dit te wees. Sommige mag dalk nie oor landboukwalifikasies beskik nie, maar dit beteken nie dat hulle nie in die bedryf betrokke kan raak nie.

“Dit is ’n wetenskap, daar is baie moontlikhede wat deur die jeug ontgin kan word in verskillende rigtings, selfs deur die vroulike geslag, van wie daar baie min in kommersiële landbou is,” het sy gesê.

Mbongxela het ook gesê dat die jeugliga, in samewerking met die departement, loopbaan uitstallings sal aanbied om die aantreklikheid van die bedryf in veral verafgeleë dorpies in die provinsie te beklemtoon.

You need to be Logged In to leave a comment.