Landsdiens is lekker

AAN die begin van Maart het ’n vrolike groep van die Hoër Volkskool landsdieners na Skietfontein vertrek op die jaarlikse takkamp.


AAN die begin van Maart het ’n vrolike groep van die Hoër Volkskool landsdieners na Skietfontein vertrek op die jaarlikse takkamp.

Landsdiens staan stewig op vier pilare, naamlik liefde vir God, medemens, arbeid en die natuur. Tydens kampe word tyd ingeruim vir aktiwiteite rondom elk van dié pilare.

Gewapen met grawe, pikke en ’n koevoet of twee is voorbereidings getref vir die plant van spekbosse – een per persoon. Die Karoo-son was genadig en verskuil agter ’n digte wolkbank. Onkruid is ook in die ri- vier verwyder en vernietig.

’n Gebedsroete is gebou. Bosse is teruggekap en klippe aangedra en gepak om die roete aan te dui. Inspirerende boodskappe is op planke geskryf en as afronding van die roete op strategiese plekke langs die roete aan bome vasgemaak.

Daar is deelgeneem aan ’n nagmars waarna ure om die vuur gesit en kuier is, terwyl sommige spookstories vertel het. Genoeg tyd is ingeruim vir pret en plesier. Boere-sport met sakresies, driebeenresies en ’n eierresies het vir ’n prettige kompetisie ge-sorg. Die aangee van ’n stroop besmeerde aartappel was ’n taai afêre, maar die waterkaskenades het beslis daarvoor vergoed. Die plaasjapies kon hul vaardighede met teikenskiet demonstreer, maar dorpsjapie Emile Blignaut het die meeste teikens raakgeskiet!

Die landsdieners het ’n spesiale dank aan Jannie en Wilna Geyer van Skietfontein gegee vir die regstaan en bontstaan en lekker etes.

You need to be Logged In to leave a comment.