Lenie (80) skenk winterwarmte en inspirasie aan Huis Silwerjare

VRYDAG, 20 April was ’n groot dag vir die 80-jarige Lenie Minnaar en haar familie, asook vir Huis Silwerjare in Midros (Middelburg).


VRYDAG, 20 April was ’n groot dag vir die 80-jarige Lenie Minnaar en haar familie, asook vir Huis Silwerjare in Midros (Middelburg).

Opgedollie in hul oranje T-hemde met Ouma Lenie se gesig voorop, het die familie een ná die ander by die tehuis opgedaag vir die oorhandiging van 49 warm komberse en kussings vir die 49 bejaardes by Huis Silwerjare.

Eers het Ouma Lenie mooi met al die bejaardes gepraat en hulle deeglik maak verstaan dat die nuwe komberse en kussings nié die inwoners se eiendom is nie, maar geskenk word aan die tehuis. Die komberse en kus-sings word aan Huis Silwerjare gegee sodat die personeel kan sorg dat die bejaardes warm bly.

“Julle moet dankbaar wees teenoor die mense wat julle hier by die tehuis versorg en julle samewerking ook gee. Hierdie mense versorg julle met liefde. As dit nie vir die genade van die Here en my lieflike kinders was nie, sou ek nie vandag hier gewees het nie,” het Ouma Lenie met die inwoners gesels.

Sy woon nog in haar eie huis. Sy is dankbaar teenoor haar ses kinders, 28 kleinkinders en 30 agterkleinkinders vir al hulle liefde en omgee wat sy daagliks ontvang.

Hierdie besoek aan Huis Silwerjare was egter net die begin van al die feesvieringe wat vir die familie voorgelê het.

Met ’n klein danspassie het die 80-jarige Ouma Lenie vir oulaas die bejaardes gegroet met haar woorde, “Julle moenie dink julle beteken niks meer nie . . . moenie net op een plek sit en niks doen nie – dan gaan ’n mens te vinnig dood! Staan op en beweeg!”

“Hier is ’n lekker groot saal waar julle kan oefen. Laat dit met julle goed gaan verder. Sien ek gaan nou gaan party.”

Die tehuis is altyd dankbaar vir skenkings en baie afhanklik van die gemeenskap om bydraes te lewer om die lewe vir die bejaardes draagliker te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.