Lizma en haar groepie jong kunstenaars. Foto:DEONETTE HAGGARD


LIZMA Schoeman is deesdae baie positief en passievol oor haar lewe. Alhoewel sy al vir baie jare aan ’n rolstoel gekluister is as gevolg van sistemiese Lupus, en ’n lang en moeilike pad gestap het – fisies sowel as geestelik – is sy nou op ’n plek waar sy na elke dag uitsien.

Sedert sy ’n liefde vir kuns ontwikkel het, speel sy deesdae met kwaste en verskillende kleure. Nie net om haar eie doeke te verf nie, maar om kinders wat in kuns belangstel, te leer.

Lizma en haar groepie jong kunstenaartjies sit op die stoep en tee drink en kolwyntjies eet in die yl wintersonnetjie toe Mid-Karoo Express daar opdaag.

Klaar gedrink is die kleintjies gretig om weer by hulle projekkies uit te kom en aan die werk te spring.

Hulle is besig om wit papiervoëltjies met verskillende kleure geskeurde papierstukkies toe te plak. Elkeen se voëltjie is uniek. Hulle werk is om kunsklasse aan te bied.

Die kunstenaartjies werk in ’n sonnige vertrek omring deur verskeie soorte kunswerke deur Lizma gemaak. Sagte agtergrondmusiek dra by tot ’n ontspanne atmosfeer.

Die kleintjies is rustig, maar die handjies woelig – gefokus op hul kunswerkie in wording.

Lizma beweeg tussen hulle deur en gee raad. Soos in enige klas is daar die skugteres en dan die een of twee tipiese geselsertjies wat sommer tuis is met enigeen wat daar instap en begin kwetter terwyl die besige vingertjies steeds plak, plak . . .

Dit is die eerste maal dat Lizma die kunskasse gedurende die vakansie aanbied en sy vertel dat sy eers baie huiwerig was, maar nou put sy soveel genot en bevrediging daaruit dat sy daaraan begin dink om dit meermale te doen.

Haar grootste bron van kommer was die feit dat sy gewonder het of die kinders die klasse sal geniet. Toe puur verniet, want sonder twyfel, geniet hulle elke oomblik.

Oor die kunsklasse voel Lizma so: “Regterbrein-aktiwiteite is in my opinie baie belangrik vir ’n kind of grootmens. Kuns is een vorm daarvan en laat kinders toe om te let go.

“Dit is ’n manier om die verbeelding en kreatiewe denke ’n ekstra hupstoot te gee. Elke persoon het kreatiwiteit in hom of haar en dit hang net van jouself af of jy daaraan gaan aandag gee en dit gaan stimuleer om verder te ontwikkel.”

Staan jy nader en praat oor die kunswerk in wording, borrel die kinders oor hul werk. Hulle werk selfstandig en versigtig en is gelukkig om die raad te aanvaar wat Lizma gee.

Sy leer hulle ook om hul werktafel skoon te hou en los papiere weg te gooi sodat hulle genoeg spasie het en nie maklik sal mors nie.

In hierdie uiters positiewe deel van haar lewe kap Lizma vir haar ’n nuwe en interessante paadjie uit en terselfdertyd verryk sy elke klein, ontluikende kunstenaartjie se lewe.

You need to be Logged In to leave a comment.