DAANTJIE Wilshire en sy familie kan met trots so breed glimlag.
Vir die afgelope 28 jaar is Daantjie al in die windpompbedryf en het hy onlangs na die nuwe perseel, wat die plaaslike munisipaliteit vir hulle uitgesit het, geskuif.
Daantjie en sy familie is die span agter die 750 windpompies wat vir die komende Lormar Endurance MTB Tour en Trail Run gemaak word. Tydens hierdie aksiebelaaide Lormar-gebeurtenisse wat Oktober 2018 op Fairview, 47km buite Middelburg op die Richmond-grondpad gaan plaasvind, gaan die windpompies as me-daljes aan die deelnemers uitgedeel word.
Met die winste wat Daantjie uit 2017 se windpompies gemaak het, het hy vir sy vrou ’n wasmasjien kontant gekoop.
Sedert verlede jaar is Daantjie ongelukkig in ’n rolstoel, maar dit keer hom vir geen oomblik om steeds met sy florerende besigheid voort te gaan nie, want soos hy dit stel : “My hande makeer mos niks nie!”
Sy hele familie doen elkeen sy/haar deel om die windpompies betyds klaar te kry vir Oktober se Lormar.
Tydens ’n gesprek met Daantjie wil hy net heeltyd weet watter grootte windpompies benodig word, want hy is ’n baie besige man en kan nie goed hoor met al die verkeer wat verby ry nie.
Hy is egter baie dankbaar vir die groot kontrak wat hy nou weer by die Van der Merwes van Lormar gekry het. By navraag oor wat hy met sy 2018 wins gaan maak, sê hy egter dat hy nog nie daaraan gedink het nie, want daar moet nou eers vinnig en hard in die koue gewerk word om die Windpomp-medaljes betyds klaar te kry.