DIE lyk van ’n vrou van Somerset-Oos wat sowat drie maande gelede vermis geraak het, is naby die dorp gevind.
’n Skaapwagter het Vrydagmiddag toevallig op haar oorskot taamlik diep onder ’n bos afgekom en die vonds aan die polisie gerapporteer.
Intussen is dit vasgestel dat die lyk dié van Gia de Goede is wat al vir drie maande vermis was.
Polisiewoordvoerder ao. Juan du Preez het bevestig dat dit wel De Goede se oorskot is wat in ’n veld naby die Visrivier gevind is. Volgens hom is sy aan haar klere en juwele uitgeken.
De Goede se hangertjie, wat haar voorletters op het, was steeds om haar nek en haar bril en ’n pilhouertjie het langs haar gelê.
Volgens kolonel P. Jonas van die Somerset-Oos polisie vermoed hulle tans geen misdaad nie.
“Ons wag nog vir die uitslae van die nadoodse ondersoek, maar op hierdie oomblik vermoed ons geen misdaad nie,” het Du Preez ook bevestig.
Haar vriende praat met die grootste lof van dié vriendelike en hulpvaardige mens, asook haar passie, groot liefde en deernis vir diere.
De Goede het saam met Lesbé Erasmus van Save-a-Pet op die dorp gewerk.
Die De Goedes het in 2012 vanaf Hermanus na Somerset-Oos verhuis. Sy het al in Hermanus by ’n diere welsynsorganisasie aangesluit en haar aandag op alle vierbenige diere begin toespits.
De Goede en haar man, André, se huis was altyd vol diere – selfs skilpaaie.
Dié skilpaaie is waarvoor sy eintlik bekend geword het toe ’n artikel oor haar in ’n bekende tydskrif verskyn het.
Sy is daarin bekendgestel as die “Tortoise Lady of the Karoo” omdat sy toe daarvoor bekend geword het dat sy skilpaaie wat raakgery is, huis toe geneem en gesond gedokter het.
De Goede laat haar man, André, en twee seuns uit ’n vorige huwelik agter.
Tot dusver is geen begrafnisreëlings bekendgemaak nie.

