Ma en dogter is terug met nóg ’n smaaklike avontuur

HULLE is net onlangs nog terug van die weke lange nasionale My Kitchen Rules SA TV-kompetisie, waar hulle as semi-finaliste geëindig het, en die ma-en-dogter kombinasie van Elanie (Lani) Lombard en Louzel Steyn het alweer nog ’n kosepisode agter die


HULLE is net onlangs nog terug van die weke lange nasionale My Kitchen Rules SA TV-kompetisie, waar hulle as semi-finaliste geëindig het, en die ma-en-dogter kombinasie van Elanie (Lani) Lombard en Louzel Steyn het alweer nog ’n kosepisode agter die rug.

Dié keer is hul nuwe projek om dorp- of stadsmense te wys wat alles op ’n werkende Karooplaas aangaan en kos direk van die plaas na die tafel te berei.

“Ons nooi mense buite ons vriendekring vir ’n naweek om ’n egte plaaservaring te ondervind soos dit elke dag op ons plaas Waterval gebeur,” het Lani verduidelik.

Belangstellendes van Port Elizabeth, Bedford en Cradock het die eerste byeenkoms meegemaak.

Lombard en Steyn nooi per advertensie gewoonlik ses tot agt persone om só ’n naweek mee te maak wat gewoonlik met Vrydag se aandete by True Living, Lani se restaurant op Cradock, begin. Saterdag begin dan met koffie en beskuit waarna die program behoorlik afskop met die bak van brood.

“Elke gas kry sy eie skotteltjie meel en moet dan sy eie brood aanmaak en knie,” het Louzel verduidelik. “Terwyl die brood rys, maak ons kaas en word mini-demonstrasies, soos hoe om eiers suksesvol te posjeer en tamaties te braai, gedoen.”

Wanneer die vleiskamer aan die beurt kom, wys Lani hoe om ’n wildbok op te sny terwyl Louzel carpaccio maak wat teen sononder saam met drankies bedien gaan word. Ná die gaste biltong gesny het, begin Lani om die afvalvleis en -bene op te sny en te kook vir die aand se wildspastei.

Op pad terug kombuis toe maak hulle ’n draai in die groentetuin vir groente en slaai vir aandete. Daarna maak elkeen sy individuele pastei met onder meer die botter wat hulle die oggend gekarring het.

Douvoordag die volgende oggend gaan almal op ’n wildkyk uitstappie en bederf Lani en Louzel hulle met ’n braai piekniek in die veld.

“Ek mik daarna om Suid-Afrika se koskultuur te bemark sodat ons land ook ’n wêreld-kosbestemming kan word en smulpape nie nodig het om na Italië, Tokio en al die ander bekende koslande te gaan nie,” het Lani gesê.

Die volgende kosnaweek op Waterval sal op 16 en 17 Maart plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.