BY ’n onlangse Tuinbou- en Leefstylvergadering op Somerset-Oos het Rosemarie Vermaak die gaste laat regop sit met haar oulike idees om nagereg aantreklik voor te sit.
Rosemarie het gesê, “Almal weet die gaste voel tuis wanneer die tafel mooi gedek is, maar hulle voel ekstra spesiaal wanneer die gereg ook aanloklik lyk. En dan praat ons nie eens van die nagereg nie.”
Sy het die wenke wat sy deurgegee het gedemonstreer om te wys dat dit werklik nie so moeilik is nie.
Hier volg van haar wenke om die oog en die mond tevrede te stel:
. Wees kreatief en speel met kleur – ’n bleek sjokoladebruintjie kan kunstig lyk met ’n bessie coulis.
. Maak van verskillende teksture gebruik om die nagereg te omtower.
. Gebruik ’n bordjie wat die nagereg gaan komplementeer.
. Visualiseer die komponente op die bord en hoe jy dit wil posisioneer.
. Gebruik kontrasterende temperature, bv. ’n warm poeding met koue roomys.
. Gebruik ’n element om ’n fokuspunt te skep, bv. ’n snytjie appel op ’n appeltertjie.
. Maak seker dat al die elemente op die bord stewig is.
. Versier die nagereg met komplementerende en eetbare komponente.
Ná nog ’n leersame en gesellige oggend is die gaste opgewonde huis toe om te gaan eksperimenteer met hul eie kunssinnige idees.

