Maansverduistering hierdie Vrydag

OP Vrydag, 27 Julie sal ’n algehele maansverduistering plaasvind.


OP Vrydag, 27 Julie sal ’n algehele maansverduistering plaasvind.

Die naaste soortgelyke maansverduistering was in 2011, maar wat môre s’n so besonders maak, is dat dit een volle uur en 43 minute sal duur, wat dit die langste algehele maansverduistering van die eeu sal maak.

’n Algehele maansverduistering, wat altyd tydens volmaan geskied, vind plaas wanneer die son, aarde en maan in ’n reguit lyn met mekaar lê en die maan dus só deur die kernskaduwee van die aarde beweeg dat daar geen sonlig op die maanoppervlak val nie.

In teenstelling met ’n sonsverduistering wat nie oral op aarde waargeneem kan word nie, is maansverduisteringe feitlik wêreldwyd waarneembaar – enige plek op aarde waar die maan bo die horison staan.

Dié spesifieke maansverduistering sal heeltemal sigbaar wees oor Oos-Afrika en Sentraal-Asië – dit kom op oor Suid-Amerika, Wes-Afrika en Europa en sak weer oor Oos-Asië en Australië.

Volgens Nasa sal die bietjie sonlig wat wel daarin slaag om deur die aarde se atmosfeer te dring die maan ’n rooi skynsel gee, omdat die blou lig uitgefiltreer word deur die aarde se atmosfeer – vandaar die term “bloedmaan”.

Die kleur en intensiteit van die totale verduistering word beïnvloed deur die hoeveelheid stof in die dampkring van die aarde.

Op 27 Julie beweeg die aarde tussen die son en Mars deur – dit staan bekend as Mars se opposisie – en gebeur ongeveer elke 26 maande.

Daar is egter ook ’n 15-maande siklus van Mars, wanneer die rooi planeet helderder en flouer vertoon in die hemelruim. In Julie vanjaar sal sowel die 2-jaar as 15-jaar siklusse hulle piek bereik, wat beteken dat Mars uiters helder sal vertoon.

Op 31 Julie sal Mars die naaste aan die aarde wees sedert 2003, maar op ’n afstand van 57.6 miljoen kilometer ongelukkig nog nie naby genoeg om ’n marsmannetjie met die blote oog te kan waarneem nie.

Die volgende nabye ontmoeting van aarde met Mars sal eers op 6 Oktober 2020 plaasvind.


Aanvullende bronne:
https://www.sterrenkunde.nl;
https://af.m.wikipedia.org/wiki/


Maansverduistering; https://www.google.co.za
/amp/s/amp.theguardian.com/science/2018/jul/22/longest-lunar-eclipse-century-uk-celestial-thrill;



https://wibnet.nl; https://marsmobile.jpl.nasa.gov/; http://earthsky.org; https://wetenschap.infonu.nl/.

You need to be Logged In to leave a comment.