< Van links is Simon Jansen, Blaar Coetzee, Christa Pienaar, Annette Coetzee, Teresa Opperman, Rosalie Manley met Roelf Opperman skuins agter haar, Cedric Manley, Cobus Claassen, Rosemary Jordaan, Schalk en Marietjie Opperman en Kobus Burger. Foto:VERSKAF


CEDRIC en Rosalie Manley het die afgelope Sondag hul laaste erediens in Hofmeyr bygewoon voordat hulle nader aan hul dogter en skoonseun, Marié en Kobus Kotzé, en die kleinkinders in George verhuis.

Cedric het in 1947 na Hofmeyr verhuis saam met sy ouers waar sy pa sy ontslag vanuit die Leër ontvang het na die Tweede Wêreldoorlog waar hy in die mediese korps was.

Hulle het toe die plaas Upper Lonely aangekoop uit Landraadgronde. Die gesin het daar gewoon, en Cedric se pa is in 1957 oorlede op 64-jarige ouderdom. Cedric het in Cradock by die Hoër Seunskool skoolgegaan en in 1957 gematrikuleer.

In 1963 het Cedric en sy oorlede moeder die plaas Lonely ook aangekoop en hy het voltyds geboer. Vanaf 1971 tot 1981 het hy ook deeltyds vir Vleissentraal as Veebemarkingsagent opgetree. Hulle het ook vir baie jare die Teviot winkel by die Teviot Soutpanne bedryf.

Cedric en Rosalie en hul gesin het die plaas in 2006 verkoop en na Hofmeyrdorp verhuis.

Rosalie is in 1942 op Hofmeyr gebore as die enigste kind en dogter van Frikkie en Minnie Hattingh. Hulle het op die plaas Damanskraal gewoon tot en met haar pa se dood in 1951.

Daarna het Rosalie en haar ma dorp toe ge-trek en in verskeie huisies in die dorp tuisgegaan totdat hulle in 1953 in die huis in Van Heerdenstraat ingetrek het waar die Manley-egpaar ook tot vandag toe woon.

Sy het op Hofmeyr skoolgegaan en is vanaf Graad 8 na die Rocklands Hoër Meisieskool in Cradock.

Rosalie het vanaf 1961 tot 1964 in die Landdroskantoor op Hofmeyr gewerk tot en met hul huwelik. Cedric en Rosalie is in 1964 ge-troud en drie kinders is uit die huwelik gebore.

Hul seun Cecil, is getroud met Jane, en woon in Bloemfontein. Hulle het twee dogters. Minette is getroud met Anton Weyers en hulle het 2 dogters. Hulle woon in Witrivier. Marié is getroud met Kobus Kotzé en hulle het ’n dogter en ’n seun. Hulle woon in Blanco.

Die egpaar het vir hulle ’n aftree-huisie in Blanco laat bou en vertrek einde September daarheen sodat hul nader aan hul kinders kan wees en ook nader aan mediese dienste.

Die Hofmeyrgemeenskap het die afgelope Sondag van hul afskeid geneem tydens ’n tee-geleentheid in die NG Kerksaal.

Gaste vanaf Rouxville, Burgersdorp en Cradock het ook die afskeid bygewoon.

You need to be Logged In to leave a comment.