SLEGS een van die 12 mans wat aan die einde van April buite Cradock met ongelisensieerde vuurwapens betrap is, is nog in aanhouding.
Die mans, wat glo almal oorspronklik van Qumbu is, is van Kaapstad waar hulle in die taxibedryf betrokke is.
Volgens ’n verklaring in die hof was hulle op pad terug Kaap toe nadat hulle die begrafnis van ’n kollega bygewoon het, toe hulle op die pad tussen Queenstown en Cradock in ’n padblokkade van die pad ge-trek is.
Die polisie het inligting van die wapens ontvang en die voertuig gestop.
Oorspronklik het slegs die bestuurder op die polisie se bevel uitgeklim en nadat die ander in-sittendes geweier het om ook uit te klim, was die polisie verplig om streng op te tree voordat van die ander uitgeklim het.
Die laaste persoon het steeds geweier om uit die voertuig te klim.
Toe die taxi deursoek is, het die polisie ’n AK47 in ’n sportsak en twee pistole agter die bestuurder en voorste sitplek ontdek.
Die mans het aanvanklik op 30 April in die landdroshof verskyn en op 14 Mei, toe die staat tevrede was met hulle vaste adresse, is die eerste ses beskuldigdes met voorwaardes op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.
Hulle is Lozola David Ntungwe (39), Mtu Wekhaya Mzuku (39), Ayanda Sidwell Sikoti (38), Manelisi Vakele (47), Kihayalethu Maguma (42) en David Sitshaka.
Op 21 Mei is nog drie mans, Simon Matubula (53), Lonwabo Mbenjwa (33) en Zdi-sile Johannes Mhlanga (33) onder dieselfde voorwaardes vrygelaat.
Die staat het die vrylating van die laaste drie beskuldigdes ten sterkste opponeer, maar Ntuthuzelo Renene (39) is uiteindelik op borgtog van R10 000, met streng voorwaardes, en Lindokuhle Majozi (28) op borgtog van R3 000 vrygelaat. Sithembile Zwane (34) bly in hegtenis.
Landdros Schalk Blom het die saak vir verdere ondersoek tot 2 Julie uitgestel. Louise Brink het vir die staat en Leon Venter het vir die beskuldigdes verskyn.