DIE Steynsburg-tuinbouklub, onder leiding van Brenda Dell en haar bekwame bestuur, het die afgelope week ’n damestee by die Steynsburg-buiteklub gehou om Marais Steyn-huis te ondersteun en met fondsinsameling te help.

Meer as 100 gaste het die geleentheid bygewoon.

Hannie Steyn, ’n senior inwoner van Marais Steyn-huis, het die agtergrond van die tehuis met die gehoor gedeel.

Sy het ’n hele paar geheime uit die tehuis gedeel en vertel dat daar agter in die eetsaal ’n sonhoekie is waar die Sonkomitee byeenkom.

Die lede van die komitee is Poppie Coetzee as voorsitter, Steyn as tesourier, Nelie Jordaan as sekretaresse en Rudi Louw as skeidsregter.

Hulle veroorsaak dikwels dat die hele eetsaal naderhand heerlik saam lag en kuier. Hulle lê tuine uit, hou rolstoelresies in die gange en bespreek etes.

Volgens Steyn kan die Sonkomitee nie verstaan hoekom sommige mense bang is vir ’n ouetehuis nie.

Vanaf die vyftigerjare, toe daar in die Steynsburg-omgewing die behoefte aan ’n tehuis vir bejaardes ontstaan het, hoor sy steeds mense sê, “Ek, ouetehuis toe gaan? Nooit!”

Dié deuntjie verander dikwels sodra intrek geneem word by MSH.

Marais Steyn-huis en die Sonkomitee is dus dankbaar dat daar in 1975, saam met die Rooikruis Oos-Kaap, ’n loodskomitee op die been gebring is saam met Joan Cumming, Ben Aucamp, Tannie Labuscagne, Ruth Mills en Mara Coetzee.

Agt Gereformeerde Kerk-lidmate, agt NG Kerk-lidmate, vier Metodiste-lidmate en vier Anglikaanse lidmate was ook deel van die stigtingskomitee.

Marais Steyn, ’n oudleerder van Paul Kruger Kollege te Steynsburg, was op daardie stadium die minister van volkswelsyn en pensioene. Só word hy onder vier oë gespreek en hy sorg dat die moeilike paadjie baie makliker word.

Op 27 Februarie 1978 word Marais Steyn-huis amptelik geopen.

Hannie het die inwoners van Hofmeyr en Steynsburg ook bedank vir die sorg wat hulle aan die tehuis lewer.
Die Sonkomitee raak eintlik bewoë as daar name uitgesonder moet word, want skenkings word vanuit alle oorde ontvang, en bydraes word eenvoudig gemaak tot die vooruitgang en voortbestaan van MSH sonder voorbehoud.

Sy het afgesluit deur te vertel dat die Marais Steyn-huis die lekkerste vyfsterhotel was waar sy nog gebly het.

“Kom sluit gerus aan vir baie lekker lagstories by die sonhoekie en kom kuier op die gesellige systoep; jy sal nooit terugkyk nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.