Mara Coetzee het meer as 40 jaar gelede die wiele aan die rol gesit vir die stigting en oprigting van Marais Steyn Huis vir Bejaardes. Sy het ook vir ’n tyd lank as die matrone by die tehuis gewerk en is reeds vir sewe jaar ’n permanente inwoner daar.Foto’s:TERESA OPPERMAN


DIE Marais Steyn-huis vir Bejaardes in Steynsburg het op 10 Februarie hul 40ste bestaansjaar gevier.

Bouwerk aan die tehuis het in 1977 ’n aanvang geneem nadat ’n jong boervrou een oggend na ’n insetsel op die radio gedurende 1976 geluister het.

Tydens die insetsel het Mara Coetzee gehoor van ’n klein Vrystaatse dorpie wat ’n nuwe ouetehuis gebou het en sy het met ontbyt die inligting met haar eggenoot, wyle Peet Coetzee, gedeel. Hy het haar aangemoedig om ’n paar oproepe te maak en kort voor lank het sy met Joan Cumming en Anna Botha, wat al albei oorlede is, gesels.

Die drie dames het die wiele aan die rol gesit en Marais Steyn, die tehuis se naamsgenoot, is ook genooi om insette te lewer. Soos dit in klein dorpies gaan, het hulle die bul behoorlik by die horings gepak en die Rooikruis in Port Elizabeth en Oos-Londen vir meer inligting genader.

Daar is onmiddellik met fondsinsamelings begin en Marais Steyn het ook ’n groot finansiële inset gelewer, soveel so dat daar met bouwerk kon begin word net nadat die argitek se planne deur die munisipaliteit goedgekeur is.

Die gebou is in drie vleuels gebou wat tans as die A-, B- en C-gange dien. Daar is ook dadelik met ’n aantal woonstelle weggespring.

Nog voordat die gebou voltooi was, was alle woonstelle en slaapkamers reeds vol, met nog ’n klomp name wat op ’n waglys geplaas is.

Die nuwe inwoners van Marais Steyn-huis het op 1 Februarie 1978 ingetrek en die amptelike opening deur Marais Steyn, met Joan Cumming en Anna Botha as eregaste, het op 10 Februarie 1978 plaasgevind.

Kort ná haar man se heengaan het Coetzee as matrone by Marais Steyn-huis begin werk. Sy is ook nou al vir sewe jaar ’n permanente inwoner van Marais Steyn-huis vir Bejaardes.

Die afgelope naweek se verjaardagbraai was die eerste van ’n paar verjaarsdag-geleenthede wat hierdie jaar by die tehuis gehou gaan word.

You need to be Logged In to leave a comment.