’N JONG fisioterapeut van Port Elizabeth het verlede naweek (6 tot 8 Julie) skoonskip gemaak in haar afdeling van ’n danskompetisie in Amerika.
Marelize Opperman (29), ’n lid van die Suid-Afrikaanse dansspan wat aan die Talent America-kompetisie in Los Angeles gaan deelneem het, het eerste plek in die solo-, duet- en trio-dansnommers waaraan sy deelgeeem het, verwerf.
Na verneem word dans Marelize al van sy vyf jaar oud is en het haar pas-sie net steeds aanhou groei.
Marelize en haar man, Riaan, woon en werk in Port Elizabeth, maar hulle is ou bekendes in Cradock. Aangesien sy Maandag nog nie terug was van Amerika af nie, kon Mid-Karoo Express nie ’n onderhoud met haar voer nie.
Haar skoonpa, Johan, ’n bekende inwoner van Cradock, het vertel dat hulle telefonies met haar in verbinding was en dat sy baie opgewonde is oor haar wonderlike prestasie.
“Ons vertrou hierdie is nie net ’n hoogtepunt nie, maar dat dit die begin van ’n nuwe hoofstuk in haar danslewe sal wees,” het Johan trots gesê.