’N GESELLIGE sonskyndag was die skilderdoek vir die pas afgelope Mark in die Park wat in Laventelparkie oorkant die Karoobos Lodge op Hofmeyr gehou is.
Talle besoekers het ook gestop, want dit was immers net na die skole gesluit het, en vakansiegangers stop graag by so ’n plattelandse mark waar sambrele koelte bied vir heerlike gebak, suurlemoenstroop en gemmerbier.
Die gebruiklike stalletjies met boeke, houtwerk, nutsartikels, kunswerke, gebottel en gebak is beman deur plaaslike inwoners wat met elke Mark-in-die-park gesellig saamkuier.
Mariaan Schoeman van die Karoobos Lodge en Padstal is in beheer van die mark en sy neem reeds vroeg elke maand besprekings vir tafels. Met Kersfees in sig, kan mense gerus ’n draai daar maak en kyk of daar nie ’n oorspronklike geskenk is wat wag om onder die Kersboom te land nie.