TYDENS die afgelope Septembervakansie het Hoër Landbouskool Marlow hul 27ste avontuurkamp vir graad 6 en 7 seuns op Marlow aangebied.
Altesaam 27 seuns het vanjaar die kamp bygewoon. Die kamp het vanaf Vrydag, 28 September tot Dinsdag, 1 Oktober plaasgevind.
Net na die registrasie is die seuns in spanne gedeel en het elke span die geleentheid gekry om nes te gaan skrop.
Vir die res van die dag het die seuns die geleentheid gehad om Marlow beter te leer ken, waar hulle onder meer kleilat gegooi en in die rivier geswem het. Die aand is afgesluit met ’n lekker toutrekkompetisie tussen die spanne asook ’n vleisbraai.
Saterdagoggend is daar vroeg na Driefontein (Marlow se veld) vertrek waar die seuns mikke (vir die maak van ketties) gaan soek het. Die middag was sekerlik een van die hoogtepunte toe die seuns met binnebande in die Visrivier afgedryf het. Die aand het die seuns die geleentheid gehad om langs die Visrivier ’n rebellie te hou en menige van hulle het met skrape en ander “wonde’’ teruggekeer. Die glimlagte op elkeen se gesig het egter gewys dat hulle dit baie geniet het.
Sondag het die seuns vlotte gebou en na die beoordeling van die vlotte was ’n daar vlotvaarkompetisie. Daarna het die seuns na die veld vertrek, waar hulle kampplek gesoek het en gedurende die aand het hulle gaan hase jag en gebraai.
Maandagoggend is daar verfbal gespeel, en die seuns het die ge-leentheid gekry om met verskillende “wapens” teiken te skiet.
Na ’n skattejag op Dinsdag is hulle moeg, miskien ’n bietjie vuil, maar baie tevrede huis toe.