DIE Hoër Landbouskool Marlow in Cradock het op Saterdag, 14 April met nege rugbyspanne teen Hoërskool Die Brandwag in Uitenhage rugby gespeel.
Die Wolramme het ’n goeie rugbydag op Uitenhage beleef en het vyf wedstryde gewen.
Die hoofwedstryd het gesorg vir baie opwinding en goeie hardlooprugby van albei spanne.
Marlow het Brandwag 33-26 geklop. Marlow het vinnig twee drieë vroeg in die wedstryd aangeteken.
Die besoekers het met hul vinnige spelpatroon spogrugby gespeel en kon nog twee drieë gedruk het. Marlow het egter die verkeerde besluite by die afronding naby die doellyn van Brandwag geneem.
Namate die eerste helfte gevorder het, het die tuisspan al hoe meer gebiedsvoordeel geniet.
Brandwag het in die laaste tien minute op Marlow se doellyn geboer en hulle is beloon met ’n drie net voor halftyd. Die halftydtelling was 12-5 vir Marlow.
Marlow het die tweede helfte begin soos hulle ook die wedstryd begin het en het dadelik twee verdoelde drieë gedruk.
Brandwag het egter nie gaan lê nie en het met elke geleentheid verbete teruggeveg. Albei spanne het goeie drieë gedruk deur effektiewe fasespel. Nie een van die spanne het dit egter maklik gehad nie en albei spanne het met doelgerigte dissipline ver-dedig.
Marlow en Brandwag se vaste fasette was goed en Marlow se samespel tussen voor- en agterspelers was puik.
- Marlow se drieë is gedruk deur Jaco Nell (9), Lennox Holster (13), Juanre Snyman (12), Ambesa Zenzile (15) en Francois Jordaan (7). Claude Jacobs, losskakel, het met vier doelskoppe geslaag.
Marlow 2de vs Brandwag 2de 21-17
Marlow 3de vs Brandwag 3de 62-0
Marlow o.16A vs Brandwag o.16A 19-12
Marlow o.16B vs Brandwag o.16B 25-12
Marlow o.15A vs Brandwag o.15A 24-24
Marlow o.15B vs Brandwag o.15B 24-7
Marlow o.14A vs Brandwag o.14A 0-76
Marlow o.14B vs Brandwag o.14B 10-28
– MEDEWERKER