Marlow klop Nico Malan

DIE Hoër Landbouskool Marlow het op Saterdag, 12 Mei met tien rugbyspanne teen die Hoërskool Nico Malan in Humansdorp ge-speel.


DIE Hoër Landbouskool Marlow het op Saterdag, 12 Mei met tien rugbyspanne teen die Hoërskool Nico Malan in Humansdorp ge-speel.

Die wedstryde is in baie winderige omstandighede gespeel met die Wolramme se senior spanne wat klipharde spel opgedis het. Goeie oorwinnings is behaal.

Die junior spanne was elke maal in gelykop kragmetings betrokke en daar is ’n paar wedstryde wat Marlow kon beklink met ’n bietjie meer geluk.

Die hoofwedstryd het gesorg vir baie opwinding waar albei spanne oorgehaal was om fisieke rugby te speel. Nico Malan het eerste bloed geruik en het vroeg in die wedstryd 11 punte aange-teken. Marlow het in die eerste helfte teen die sterk wind gespeel en het elke geleentheid gebruik om momentum te bewerkstellig. Dit was vroeg duidelik dat die Wolramme se vaste fasette baie goed was.

Dit was dan ook ’n deurslaggewende faktor en het veroorsaak dat Marlow die tuisspan se ritme ontwrig. Marlow het net voor halftyd hul eerste drie gedruk en die halftydtelling was 11-5 in Nico Malan se guns.

In die tweede helfte het Marlow korrekte rugby gespeel en het hulle hul spel goed afgewissel saam met die wind. Nico Malan het egter ook hul man gestaan en moedig probeer.

Namate die wedstryd gevorder het, het die Wolramme met hul fisieke spel beheer van die wedstryd geneem en het hulle gemaklik 33-17 gewen. Marlow se drieë was gedruk deur Joop Pasques, Jaco Nell, Tiaan Pretorius en Wiehann Pretorius. Claude Jacobs het met drie strafdoele en twee doelskoppe geslaag.

Die dag se uitslae is soos volg (Marlow se tellings is eerste):

Tweede span 24-0

Derde span 17-11

Vierde span 42-5

o.16A 0-10

o.16B 24-12

o.15A 17-24

o.15B 17-19

o.14A 5-15

o.14B 0-40

  • Marlow speel op Saterdag, 26 Mei rugby teen die Hoërskool Framesby van Port Elizabeth op Marlow se velde. Die Wolramme hou hul jaarlikse kermis en die dag se rugby beloof om skouspelagtig te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.