DIE Hoër Landbouskool Marlow het op Saterdag, 21 Julie, met 11 rugbyspanne kragte teen St. Andrew’s Kollege van Grahamstad gemeet.
Dit het op Grahamstad plaasgevind met die Wolramme wat die hoofwedstryd gewen het.
Dit was die eerste keer sedert 2006 wat Marlow vir SAC kon wen op Grahamstad. Marlow se o.15A- en B-spanne was ook aan die wenkant, terwyl hul o.16A-span goeie rugby gespeel het en ook ’n naelbyt oorwinning behaal het.
Die hoofwedstryd het gesorg vir baie opwinding waar albei spanne oorgehaal was om fisieke hardlooprugby te speel. SAC het die eerste drie van die wedstryd gedruk.
Marlow het dadelik daarna ook agter die doellyn gaan kuier.
Marlow het baie goed geskrum in die wedstryd en hulle agterlyn was vernietigend op die aanval. Die Wolramme het gereeld die tuisspan se momentum gebreek deur die oorhand te hê by die afbreekpunte.
Albei spanne het nog twee verdoelde drieë in die eerste helfte gedruk en die telling teen halftyd was 19 punte elk.
In die eerste 15 minute van die tweede helfte het Marlow goeie, konstruktiewe rugby gespeel en die oorhand oor SAC begin kry.
Marlow het die bal met mening binne hul vinnige spelpatroon gedra, wat veroorsaak dat die Wolramme se skrumskakel, losskakel, binnester en buitesenter die voordeellyn telkemale gebreek het.
SAC het egter teruggeveg en elke keer moedig probeer. Hul ritme is definitief ontwrig deur die Wolramme se genadelose en puik verdediging.
Vir Marlow het Juanre Snyman (12), Ambesa Zenzile (15), Francois Jordaan (7), Claude Jacobs (10) en Driekus Venter (8) almal drieë gedruk. Claude het met twee strafdoele en vier doelskoppe geslaag.
SAC het twee drieë gedruk. Die eindtelling was 39-31 vir Marlow.
Die dag se uitslae is soos volg:
Marlow 2de t SAC 2de 0-43
Marlow 3de t SAC 3de 21-26
Marlow 4de t SAC 4de 12-33
Marlow o.16A t SAC o.16A 15-14
Marlow o.16B t SAC o.16B 3-38
Marlow o.15A t SAC o.15A 22-17
Marlow o.15B t SAC o.15B 30-5
Marlow o.14A t SAC o.14A 14-41
Marlow o.14B t SAC o.14B 21-26
Marlow sal op Saterdag, 28 Julie, teen Oakdale op Riversdal rugby speel. Daar word klipharde landbouskole-rugby verwag deur albei skole.