TWEE trotse leerders van die Hoër Landbouskool Marlow net buite Cradock het in Oktober aan ’n rugbytoer in Qatar en Rusland deelgeneem waar hulle besonders goed presteer het.
Die gr.11 seuns, Tiaan “Dassie” Herion en Hanrich “Bere” Conradie, is in Julie vanjaar tydens die Bokkieweek in Naboomspruit tot die nasionale o.17-Bokkiespan verkies.
Seuns van regoor die land was tydens die week teenwoordig en die kompetisie was straf.
Nadat Herion en Conradie tot die Bokkiespan verkies is, het hulle in ’n wedstryd teen SA Platteland in Pretoria op 25 Augustus met ’n eindtelling van 29-24 geseëvier.
Die Bokkies het weer ’n oefenkamp op 29 September in Pretoria bygewoon waarna hulle tydens ’n dinee by Trademarks Loftus in Pretoria hul klere ontvang het.
’n Dag later het hulle by die OR Tambo Lughawe bymekaar gekom vanwaar hulle na Doha, Saoedi-Arabië gevlieg het waar hulle twee dae tuisgegaan en twee wedstryde gespeel het. Hulle het die 15-man- rugby met 43-0 gewen en die sewe-man-rugby met 50-0.
Daarna het die span na St. Petersburg in Rusland gevlieg waar hulle ’n wedstryd teen St. Petersburg se universiteitspan 20-5 gewen het.
Ná die wedstryd is hulle met die trein na Moskou waar hulle twee toetse teen Rusland se nasionale span gespeel het.
Hulle het albei wedstryde gewen – die eerste met ’n eindtelling van 31-0 en die tweede met 32-7. Die seuns het dit geniet en goeie spel gelewer.
Hulle het op 9 Oktober weer op eie bodem aangekom vanwaar hulle weer hul verpligtinge by die skool hervat het.
