DIE Hoër Landbouskool Marlow het Saterdag, 3 Maart aan Fichardtpark se sportnaweek in Bloemfontein deelgeneem en die seisoen met goeie, bestendige rugby afgeskop.
Marlow het met hul o.14A, o.15A, o.16A en eerste spanne teen Welkom Gimnasium gespeel.
Die Wolramme se tweede span het teen die Hoërskool Jim Fouché kragte gemeet.
Marlow se o.14A-span het in ’n taai wedstryd vir Welkom Gimnasium 17-14 geklop. Die Wolrammetjies het hul stem vroeg dikgemaak en het gewys wat in hulle steek met hierdie goeie wen.
Marlow se o.15A-span het ’n goeie sege van 38-3 oor Welkom Gimnasium behaal. Die o.15A-span het met fisieke hardlooprugby hul teen-standers deurmekaar gespeel.
Die o.16A-span van Marlow het puik aanvallende spel deur die hele wedstryd gelewer en het ook vir Welkom Gimnasium 38-7 geklop. Marlow se goeie lynstane en vaste skrums was kenmerkend in die wedstryd.
Marlow se tweede span het vir Jim Fouché op alle fasette van die spel in die moeilikheid gehad. Die Wolramme het met goeie, afgeronde spel gemaklik met 29-0 gewen.
Marlow se eerste span het teen Welkom Gimnasium met 7-41 verloor.
Welkom Gimnasium se vaste fasette was goed en dit het vir hul agterlyn ’n goeie grondslag gegee om aan te val.
Die Wolramme se verdediging van die vaste fasette was goed. Marlow het net te veel foute op die aanval begaan en Welkom Gimnasium het elke geleentheid benut.
Marlow se drie is deur die skrumskakel en kaptein, Jaco Nell, gedruk, terwyl Claude Jacobs, losskakel, met die doelskop geslaag het.
Marlow speel Saterdag, 10 Maart, teen Dale Kollege se eerstes op Marlow. Die ander spanne speel teen Middellande Sekondêr en die Hoërskool Tarkastad.