DIE Hoër Landbouskool Marlow in Cradock het onlangs aan die Grey PE-rugbyfees in Port Elizabeth deelgeneem.
Die eerstespan, sowel as die o.16A-, o.15A- en o.14A-spanne het aan die toernooi deelgeneem en goeie konstruktiewe rugby is gespeel. Daar het ’n klomp sterk skole van regoor die land deelgeneem.
Die eerste dag se wedstryde was in baie sterk winderige omstandighede gespeel. Marlow se eerste span het kragte teen Graeme Kollege gemeet en gemaklik met 22-5 gewen.
Die o.16A-span was in ’n taai stryd gewikkel en het teen Grey PE 16-45 verloor, terwyl die Wolramme se o.15A-span in die tweede helfte van hul kragmeting teen Westering kookwater rugby gespeel het en met 34-5 gewen het.
Westering se o.14A-span was te sterk vir Marlow en het hulle wedstryd 12-0 gewen.
Op die tweede dag van die toernooi was Marlow se eerste span in ’n verwoestende bui. Hulle het vir HTS Louis Botha deurmekaar gehardloop en die wedstryd 73-0 gewen.
Die o.16A-span het ook vir baie opwinding gesorg en vir Otto du Plessis gemaklik 63-7 geklop.
Marlow se o.15A-span was oorgehaal vir hulle wedstryd teen Grey PE. Marlow het net te veel ongedwonge foute in die eerste helfte begaan en die tuisspan het ’n paar maklike drieë gedruk.
Die Wolramme het in die laaste 15 minute van die wedstryde klipharde Marlow-rugby gespeel en dis veral hulle voorspelers wat die oog gevang het. Marlow het 19–45 verloor.
Marlow se o.14A-span se samespel teen Grey PE se o.14B span was puik en hulle het die kragmeting 22-5 gewen.
Dit is die eerste maal dat Marlow met al hulle A-spanne aan hierdie toernooi deelgeneem het.
Die junior spanne het veral baie geleer en die Wolramme kan net voortbou op die goeie ondervinding.