DIE Hoër Landbouskool Marlow se o.15-krieketspan het verlede week in twee wedstryde gespeel, waarvan hulle albei gewen het.
Die Wolramme het op 6 Februarie tuis gespeel teen Gill-Kollege en het hulle gemaklik met 157 lopies geklop. Willem Venter het met die kolf uitgeblink en 84 lopies aangeteken. Marlow se boulers het uitstekend gevaar en Gill kon slegs 25 lopies aanteken.
Die volgende dag was ’n taai stryd teen die Hoërskool Cradock. Marlow word ingestuur om eerste te kolf en het 139 lopies aangeteken. Cullen Willows met 33 lopies en Jaco Williams met 26 lopies het ’n baie goeie middel-orde verhouding gebou.
Die Ramme kom toe ná die pouse terug en vaar net so goed met die bal in hand. Cradock het op ’n stadium 23 lopies van 36 balle met vyf paaltjies oor gekort. Murray du Toit neem toe die bal oor en boul uitstekend, met Cradock wat slegs 12 lopies kort en Marlow twee paaltjies. Zak Greyvenstein het Cradock se laaste kolwer met been voor paaltjie betrap waar hulle slegs twee lopies kort om te wen. CHS teken dus 137 aan en die Wolramme wen met slegs twee lopies.
Swem
MC Strydom en Izak Hattingh, kranige swemmers van Marlow, het aan die A-liga gala deelgeneem.
Izak het besonders goed geswem en teken persoonlike beste tye aan in al sy items. Hy het ook vir die nasionale vlak-3 galabyeenkoms gekwalifiseer vir 100m vryslag, 100m vlinderslag en 100m rugslag. MC het ook vir die vlak-3 gala gekwalifiseer in 100m vry-slag, 200m vryslag en 400m vryslag.
Dié twee is nou besig met hul voorbereiding vir die vlak-3 gala wat in Maart op Oudtshoorn gaan plaasvind.– MEDEWERKER

