’n Oudleerling van die Hoërskool Cradock is tans die waarnemende skoolhoof van die Hoër Landbouskool Marlow.
Jan van der Merwe neem waar nadat Pieter Steyn, die vorige skoolhoof, ná die eerste kwartaal na Nieu-Seeland geïmigreer het.
Van der Merwe het ná matriek aan die Universiteit Vrystaat gaan studeer en die graad BSc Agriculture verwerf.
Hy is in 2006 as onderwyser vir fisiese wetenskap en landboubestuurspraktyke by Marlow aangestel en het later die onderhoof van die skool geword.
“My wens vir Marlow is dat dit op landbou- en sportgebied goed sal voortbou sodat ons in die jare wat kom steeds suksesvolle boere, sportmanne en akademici kan oplewer,” sê Van der Merwe.
Van der Merwe is ook die afrigter van Marlow se o.15-rugbyspan.
Hy is getroud met Petro en hulle het twee dogtertjies, Meke en Karla. Sy pa, Du Toit was vir baie jare hoof van die Laerskool Cradock terwyl sy ma, Carien, by die Fanie Theron Pre-primêre skool op Cradock betrokke was.
Marlow, op die walle van die Groot Vis-rivier, is geleë op ’n plaas van 3 400 hektaar en is op 31 Januarie 1931 gestig met ’n leerling-getal van nege seuns.
Vandag spog Marlow met ’n leerling-getal van 250.

