Matriekklas van 1968 hou reünie by Middies

DIE Hoërskool Middelburg se matriekklas van 1968 het die naweek van 10 tot 12 Augustus hul 50-jaar reünie op Middelburg gevier.


DIE Hoërskool Middelburg se matriekklas van 1968 het die naweek van 10 tot 12 Augustus hul 50-jaar reünie op Middelburg gevier.

Uit die groep van 29 matrieks, het 10 van hulle met hul gades die naweek se verrigtinge kom bywoon. Vyf van hul klasmaats wat reeds oorlede is, is Sonia Anthony, Pietie Kruger, Alida van Tonder, Gerhard Fourie en Tertius Vorster.

Die hoofleiers van 1968, Hannes Grebe en Ronel Havenga (Theunissen) was albei teenwoordig. Die reünie is grotendeels deur Pieter Erasmus van Middelburg, Ronel Havenga van Bloemfontein en Ansie Fourie van Kaapstad gereël.

Die klasmaat wat die verste gery het vir die reünie, was Tertius Theron en sy vrou Hettie wat al die pad van Pietersburg (Polokwane) gekom het.

Vrydag het die reünie begin met ’n besoek aan die plaaslike dorpsmuseum wat voorheen die ou houtwerkklas was. Middagete is by die Kliphuis Koffiekan geniet wat lank gelede die ou Sipierswoning, langs die destydse tronk by Middelburg se ingang vanaf Cradock, was.

Die Primêre Skool Karel Theron was volgende op hul lys waar daar weer vrolik oor hulle jongdae gesels is. Saterdag was die Hoërskool Middelburg op die program, waar hulle vriendelik deur Helene Serfontein verwelkom is. Groepfoto’s is op verskeie plekke ge-neem, maar die belangrikste was dat dit weer voor die skoolsaal geneem moes word soos 50 jaar gelede.

Vrydag- en Saterdagaand is daar heerlik om die vuur gekuier en geklets by Dessert Inn-gastehuis waar van hulle tuisgegaan het vir die naweek.

Die gastehuis leen hom daartoe vir sulke groepbesprekings en die reünie-gangers het veral die groot tuin, kuier van kamer-tot-kamer en gesellige etes saam, terdeë geniet.

Van die klasmaats het reeds weer begin planne maak om moontlik volgende jaar die skool se 100-jarige vieringe in Augustus by te woon!

Een keer ’n Middie, altyd ’n Middie!

You need to be Logged In to leave a comment.