Matrieks pak praktiese eksamen aan

DIE graad 12-klas van Gill-Kollege het hul eerste praktiese eksamen in gasvryheidstudies met vlieënde vaandels geslaag.


DIE graad 12-klas van Gill-Kollege het hul eerste praktiese eksamen in gasvryheidstudies met vlieënde vaandels geslaag.

Dít is volgens van die gaste wat die aand se deftige restaurantete bygewoon het.

“Die leerders het ons aangenaam verras. Die kos was lekker en alles het baie vlot verloop,” het Sonica de Wet gesê.

Volgens hul onderwyseres, Roana Nel, bied die reël en uitvoer van só ’n funksie baie uitdagings en is spanwerk die wagwoord. Die klas word in twee groepe, naamlik kelners en sjefs, opgedeel en dan begin die stresvolle voorbereidingswerk waarvoor hulle net vier ure tyd toegelaat word.

Daar word voorbereidings vir ’n skemerkelkie met vingerhappies sowel as ’n formele viergangmaaltyd getref.

Chef de Cuisine, Shadon Zoeloe, het Bief Wellington berei en hom meesterlik van sy taak gekwyt.

Nel, wat ook huishoudkunde as vak aangebied het, het die verskil tussen dié vak en gasvryheidstudies uitgelig.

“Huishoudkunde was ’n wetenskap wat nogal streng en rigied was. Leerders het ’n baie intensiewe voedselkursus gevolg en alle aspekte van kookkuns in die fynste besonderhede geleer.

“Gasvryheidstudies is meer in ligter luim met baie ruimte vir kreatiwiteit, veral in die afdeling vir voedselvoorbereiding. Die leerders leer om buite die boks of ‘anders’ te dink en dit bied ook meer ruimte om kreatief te dink en te doen,” het sy verduidelik.

Sy was dankbaar dat die aand goed verloop het en het gesê sy is trots op die leerders.

You need to be Logged In to leave a comment.