MERINOTELERS het op Vrydag, 17 Augustus in groot getalle opgedaag vir Merino SA se jaarlikse nasionale ramveiling by die Botaniese Sportklub in ’n ysige, nat Graaff-Reinet.
Die ramveiling volg kort ná die aanvang van die 2018/19 wolseisoen vroeër dieselfde week, waartydens die wolmark-aanwyser gegroei het met 12.4% en geopen het teen R238.29/kg skoonwol.
Ronald en Adrian McNaughton van die plaas Houdconstant in die Graaff-Reinet-distrik, het weggeloop met die hoogste vetwolprys. ’n Baal BFH van 17.2 mikron met ’n 74.5% skoonopbrengs is aan Standard Wool verkoop vir R233/kg.
Danksy dié stewige wolpryse het BKB-afslaer Gert Jordaan min oorredingsvermoë nodig gehad om kopers by die ramveiling te oortuig van die waarde van ’n goeie teelram, en uitstekende pryse is behaal.
Altesaam 71 ramme is verkoop teen ’n gemiddeld van R30 098.59 per ram, asook 17 veldramme teen ’n gemiddelde prys van R7 235.29.
Die hoogste prys van R210 000 vir ’n ram is deur verkopers Andrew Jordaan & Seuns (Cradock) behaal. Die ram, Emperor, is gekoop deur Pieter van Zyl en Philip Botha (Britstown).
Gert Smit, president van Merino SA, het tydens dié organisasie se elite dinee wat op Donderdag, 16 Augustus gehou is, ere-lidmaatskap aan Hendrik van Pletzen, wat reeds 36 jaar lid van die tegniese komitee van Merino SA is, toegeken. Van Pletzen kon vanweë siekte nie self die geleentheid bywoon nie, en die toekenning is namens Van Pletzen deur sy broer, Diederik, in ontvangs geneem.
Die gewilde sanger/storieverteller Andries Vermeulen het vir vermaak gesorg tydens die dinee.
Merino-vriende vanoor die hele land het dié geleentheid bygewoon en heerlik saamgekuier.
“Ag, dis so lekker om so baie van die Merino-manne bymekaar te sien,” het Andries (Tot) Pienaar, veelbe-kroonde Merinoteler van Colesberg, aan Mid-Karoo Express gesê voordat die soveelste vriend hom kom groet het.