Met dié fiets kan jy om die wêreld reis

HY het al ongeveer 3 000 km met hom gery en sy topspoed is 42 km per uur. As Stephen Mollyneux sy aangepaste trapfiets uitrol, kan jy nie anders as om dit raak te sien nie.


HY het al ongeveer 3 000 km met hom gery en sy topspoed is 42 km per uur. As Stephen Mollyneux sy aangepaste trapfiets uitrol, kan jy nie anders as om dit raak te sien nie.

“My fiets is ’n replika van ’n 1905 Indiese model en ek het hom opgebou omdat my oupa in 1923 met ’n Indian Scout-fiets gery het,” sê Mollyneux oor hierdie baie spesiale fiets.

Hy vertel dat hy begin het deur agt jaar gelede vir hom ’n dikwielfiets vir R1 100 te koop en dié fiets stelselmatig op te bou tot die aandagtrekker wat dit vandag is. Hy het toe-rusting ter waarde van R1 650 van Johannesburg bestel en toe het die werk begin.

Clyde Strydom, ’n vriend wat intussen oorlede is, het hom gehelp met modifikasies aan die agter-kettingrat en hy het self parte gemaak en die fiets vir ’n volle ses maande opgebou voordat hy kon begin ry.

“Om aan die gang te kom, druk jy die koppelaar in en trap die pedale teen 10km per uur, los die koppelaar en daar gaat jy,” het Stephen verduidelik.

Die fiets se tweeslag-enjin gebruik twee liter brandstof wat met olie gemeng word en die fiets kan ongeveer tagtig kilometer op ’n liter ry. Dit is egter die kentekens en bybehore wat die ryding so interessant maak.

Voor op die fiets sit sy kenteken, gemaak van ’n bobbejaan se skedel, ’n Ngunibees se horings en die ruggraat van ’n rooihartebees. Stephen het die meganisme self ontwerp en daar is kabels wat die kenteken se mond oopmaak wanneer hy die toeter blaas. Die oë, wat kan uitpeul, is van geverfde hout wat op ’n draaibank gevorm is.

Van die bybehore op die fiets is ’n potloodskerpmaker sodat hy gou die polisie se potlode kan skerpmaak wanneer hulle hom af-trek en hy is seker dat hy daarmee ’n stewige afslag kan verdien.

Daar is ook ’n kers en ’n blaker as nood- koplig ingeval die “dynamo” nie werk nie en ’n toiletborsel om jou rug by die wegspring te krap. Agterop is ’n egte blinkgepoetste spoorweg skafblik en ’n melkkan vir “brandy and coke”.

Daar is ook ’n slagyster indien die rotte sy kos wil kom steel en ’n aardbol wat as “gps” dien. Stephen sê die valhelm en blomme kom van Pep Stores en die uitrusting wat hy dra is twintig jaar gelede deur ’n vriendin vir hom gemaak.“Ek het al verskeie kere die ‘Best Classic Prize’ by die Concours d’Elegance by die Lions Motorfiets-saamtrek, wat jaarliks op Cradock gehou word, gewen,” het hy vertel. Stephen, wat vir baie jare lank ingenieur by die departement van waterwese en bosbou was, het onlangs afgetree.

You need to be Logged In to leave a comment.