Michausdal-kliniek hou ope dag om inligting te versprei

MICHAUSDAL-kliniek het verlede Donderdag, 27 September ’n ope dag gehou waarheen die gemeenskap genooi was om sake van belang te bespreek.


MICHAUSDAL-kliniek het verlede Donderdag, 27 September ’n ope dag gehou waarheen die gemeenskap genooi was om sake van belang te bespreek.

Die tema van die dag was “Voorkoming, behandeling, versorging en ondersteuning” van die gemeenskap en verskillende sprekers het belangrike onderwerpe, soos bloedtoetse, ondersteuningsgroepe en tienerswangerskappe, behandel.

Virginia de Beer van Middelburg het die staat se nasionale gesondheidsplan verduidelik en gesê dat mense in die toekoms nie meer van privaat mediesefondse afhanklik sal wees nie. Om deel te wees van hierdie nasionale plan moet klinieke aan sekere vereistes, soos genoeg medisyne, genoeg personeel en veiligheid, vir almal voldoen.

Sy het die R80 fooi by die hospitaal se buitepasiënte-afdeling verduidelik en gesê dat dit slegs van toepassing is in gevalle waar pasiënte nie eers deur ’n kliniek na die hospitaal verwys word nie. Dit word ook nie vir noodgevalle ná 16:30 wanneer die kliniek reeds toe is, gehef nie.

De Beer het ’n beroep op inwoners van Michausdal gedoen om hulle samewerking te gee.

Een van die belangrike onderwerpe van die dag was dwelmafhanklikheid wat op passievolle wyse deur Shawn Johnson van die departement van maatskaplike ontwikkeling bespreek is. Johnson het klem gelê op goeie huislike omstandighede vir jong mense en kinders se openhartigheid om hulle probleem met hul ouers te kan bespreek.

Hy het ook gesê dis gewoonlik wanneer kinders huislike probleme het dat hulle slagoffers van ’n vriendekring se dwelmgewoontes word. Hy het ouers op die belangrikheid daarvan om hul kinders selfrespek te leer, gewys.

“Dwelmverslawing lei ook baie keer tot misdaad aangesien daar gesteel word om geld vir dwelms in die hande te kry,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.