Michausdal oues word besig gehou

SENIOR inwoners van Michausdal het van hul handwerk in die Sonskyn-dienssentrum uitgestal. Pragtige kombersies, truie, serpe en handsakke was te sien.


SENIOR inwoners van Michausdal het van hul handwerk in die Sonskyn-dienssentrum uitgestal. Pragtige kombersies, truie, serpe en handsakke was te sien.

Volgens Sharon Hufkie, voorsitter, sorg die dienssentrum vir alle ouer mense wat reeds sestig jaar oorskry het. Hul oudste aktiewe lid is ouma Lydia Adams wat 92 jaar oud is. Hufkie vertel dat die ou mense graag by die sentrum, wat in 2012 gebou is met geld wat van die Lotto ontvang is, bymekaar kom. Hulle hou hulle besig met handewerk, brei- en hekelwerk, kralewerk en naaldwerk. Die mans verwyl hulle tyd deur legkaarte te bou en speletjies te speel.

Tans ontvang hulle slegs R70 per persoon van die departement van welsyn wat glad nie genoeg is om die sentrum se kosrekening te dek nie. Die bejaardes ontvang van Dinsdae tot Donderdae ’n bord voedsame kos by die sentrum.

Om fondse aan te vul en veral die lone van drie werknemers te betaal, word die saal ge-reeld uitgehuur. “Ons vra maar ’n minimale bedrag vir die huur, maar dit help darem om gaatjies toe te stop,” het Hufkie gesê.

Hufkie sê hulle doen ’n beroep op die gemeenskap en sakeluit om hulle te help met “Operasie Winterhoop” waarmee hulle na die gemeenskap wil uitreik. Hulle is groot dank verskuldig aan Freda Froehlich en Bettie Lawens vir hulle projek waardeur hulle 67 japonne vir bejaardes en 67 skooltruie vir Mandeladag wil insamel. Hulle versamel ook breiwol en lesers word versoek om Cradock Speakout en Cradock Times op sosiale media te volg om die vordering dop te hou. Met afvalwol is die bejaardes besig om kombersies te brei en hekel.

Hufkie sê dit is so belangrik dat ouer inwoners nie verwerp moet voel nie. Sy wil hê mense moet onthou dat dit dié ouer mense is wat al die mans en vroue wat vandag suksesvolle lewens het, opgevoed het.

Sy het almal bedank wat reeds skenkings gegee het en versoek toekomstige donateurs om donasies tussen 07:00 en 14:00 op Dinsdae tot Donderdae by die sentrum in Van der Stelstraat af te lewer of by Sharon Hufkie (073 355 1904) by DF Malanstraat 3, Cradock.

Die sentrum se bestuurder is Lillian Adams (082 481 1438).

You need to be Logged In to leave a comment.