SLEGS agt maande ná die eerste Mid-Karoo Express gepubliseer is, het EP Media aangekondig dat hierdie koerant vandeesweek met 3 000 koerante groei.
Dit bring die totale aantal Mid-Karoo Express koerante wat weekliks gratis versprei word, te staan op 15 000.
EP Media is ’n afdeling van Media24 wat agt gratis, plaaslike koerante weekliks regoor die Oos-Kaap publiseer. Dit sluit in Port Elizabeth Express, UD Express, Kouga Express, King William’s Town Express, Queenstown Express, Mthatha Express en Isolomzi Express.
Mid-Karoo Express word sedert 5 Oktober verlede jaar elke week op ’n Donderdag in Cradock, Middelburg, Somerset-Oos, Bedford, Adelaide, Fort Beaufort en omstreke versprei.
Volgens EP Media se streeksredakteur, Bettie Giliomee, is daar besluit om die Mid-Karoo Express se druk-oplaag te verhoog om in die aanvraag van lesers in Graaff-Reinet te voorsien.
“Tot op hede is net ’n beperkte aantal koerante op Graaff-Reinet versprei. Vandeesweek sal 3 900 koerante op die dorp versprei word. Benewens deur-tot-deur verspreiding in ’n groot gedeelte van die dorp, sal daar ook koe-rante by sleutelpunte in woonbuurte uitgedeel word,” het Giliomee gesê.
As kontrei-koerant van Die Burger (Oos-Kaap) is die Mid-Karoo Express voorheen ook as bylae in Die Burger op Donderdae versprei. Om voorsiening te maak vir die groter verspreiding in Graaff-Reinet, sal dit nie meer in Die Burger beskikbaar wees nie.
“Hierdie groei is te danke aan die fantastiese ondersteuning wat ons van adverteerders en lesers gekry het die afgelope agt maande. Ons is baie trots op hierdie koerant en wat in so ’n kort tydjie bereik is. Die terugvoer wat ons van oral-oor ontvang is ver-blydend. Mid-Karoo Express is ook onlangs by EP Media se jaarlikse toekenningsgeleentheid vereer vir uitste-kende gemeenskapsbetrokkenheid,” het Giliomee gesê.
Mid-Karoo Express kan ook in digitale formaat gelees word op Netwerk24 wat die webtuiste van Die Burger, sy susterpublikasies, Media24 tydskrifte en ander plaaslike koerante is.
Die verspreiding van EP Media se plaaslike koerante word geverifieer deur die onafhanklike Audit Bureau of Circulations (ABCs).