EEN van Mid-Karoo Express se vryskutjoernaliste, Deonette Haggard, is pas aangewys as ’n finalis in die Media24 Legends-kompetisie.
Altesaam 651 inskrywings is in die redaksionele afdeling van vanjaar se Legends-toe-kennings ontvang. Die finale beoordeling is in Junie afgehandel en 42 finaliste is aangewys. Daar is slegs 2 finaliste per kategorie.
“Die gehalte van inskrywings van joernaliste by plaaslike koerante was vanjaar veral opmerklik,” het Johanna van Eeden, same-roeper van die redaksionele beoordelaars-paneel, gesê.
Die Legends-toekennings erken ook vanjaar vir die eerste maal die bydraes van vry-skutjoernaliste en -fotograwe.
“Ons is besonder trots om te kan sê dat ’n Mid-Karoo Express korrespondent een van net twee finaliste is in ’n kategorie waarvoor Media 24 se vryskutjoernaliste landswyd kon inskryf. Deonette het van die begin van Mid-Karoo Express se ontstaan bydraes vir die koerant gelewer en haar liefde en entoesiasme vir haar dorp en sy mense skyn helder in haar stories,” het Bettie Giliomee, streeksredakteur van EP Media en Mid-Karoo Express gesê.
“Dit is juis die feit dat feitlik al die nuus in Mid-Karoo Express deur korrespondente gelewer word, wat hierdie koerant ’n ware plaaslike nuusblad maak wat die lewe en mense van sy gemeenskappe uitbeeld. Hierdie korrespondente is ware verteenwoor- digers van hul dorpe en met hul ywer en harde werk sorg hulle weekliks dat hul mense in die koerant verskyn,” het Giliomee gesê.
Die wenners van die Legends-toekennings word op 27 Julie in Kaapstad aangekondig. Die ander finalis in die vryskutjoernalis-kategorie is Suzette Truter van Die Burger, By.