Middelburg-diereskuiling benodig skenkings om voorts na diere om te sien

OP Middelburg is een vrou wie se naam op almal se lippe is – Marietjie.


OP Middelburg is een vrou wie se naam op almal se lippe is – Marietjie.

Met ’n hart van goud is sy die “Kennel Mamma”, Nonna, Ounooi . . . noem dit maar . . . van MC Animal Rescue Family op Middelburg.

In die afgelope jaar vandat Marietjie en haar man Thys van Rooyen hierdie groot-hartige projek begin het, is verskeie diere van die strate verwyder, te hulp gesnel of van ’n beter toekoms voorsien.

So is daar in die afgelope jaar al meer as 40 honde en 18 katte gesteriliseer. Tans sien hulle by die skuiling om na 29 honde en 15 katte, waarvan ses van Noupoort af kuier.

Een van die grootste behoeftes by MC Animal Rescue Family is verseker kos vir die diere, aangesien ’n 25kg sak pille slegs vier dae hou. Verder benodig hulle ook fondse vir veeartskostes.

MC Animal Rescue Family is nou geregistreer as ’n nie-winsgewende organisasie (NGO) en hulle hoop dat daar hiermee meer deure vir hulle sal oopgaan.

Tans betaal Thys en Marietjie self hul assistent Lawens se salaris, asook die elektrisiteitrekening, aangesien hulle lie-wer die kontant-bydraes wat hulle van weldoeners ontvang, vir die veeartsrekeninge aanwend.

Ander behoeftes wat daar ook by die skuiling is, is komberse en baie draad, pale, sinkplate en hekke om van die hokke nog reg te maak.

’n SMS-stelsel is onlangs begin waarmee skenkers ’n R30-bydrae tot MC Animal Rescue Family kan maak. Dit werk soos volg: SMS “Donate Mcarf” na 42646.

Hierdie geld sal aangewend word om die veeartsrekeninge te help betaal. Alhoewel hulle ongelukkig nie die volle R30 ontvang nie (en ook eers elke 90 dae dit ontvang), sal elkeen se bydrae, asook deur die boodskap te deel met ander weldoeners, opreg waardeer word.

Aflaaipunte vir kos, komberse, ensomeer is by Thys Se Werkswinkel en by PG Glass. ’n Ander, makliker manier om hondekos van elders te skenk, is om van Take-alot gebruik te maak.

Die afleweringsadres is dan Thys Se Werkswinkel, Meintjiesstraat 57, Middelburg, Oos-Kaap, 5900.

Bydraes soos ou klere, gordyne, beddegoed, breekware, ensomeer is ook baie welkom, wat dan weer op ’n mark (gewoonlik ’n Saterdag naby die einde van die maand) deur Lezanne verkoop word om sodoende nog meer fondse vir die skuiling in te samel.

Soos die sêding lui: “Die wêreld sou ’n beter plek gewees het as almal die vermoë gehad het om so onvoorwaardelik soos ’n hond lief te hê.” Daarom word daar ’n be-roep op die publiek gedoen om hul harte en beursies oop te maak en bydraes te lewer tot die projek. Marietjie kan ook by 082 455 1297 of 049 842 1515 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.