DIE dames van die Middelburg-gholfklub het die afgelope Saterdag ’n kombuistee gehou in ’n poging om die voorraad gebruiks-artikels van die klubkombuis weer aan te vul.
Die dames wat die middag bygewoon het, het nuttige geskenke van nuwe en gebruikte kombuisware saamgebring.
Vier sprekers is vir dié geleentheid ge-reël.
Adjudant-offisier Vlam Olivier, bevel- voerder van die plaaslike honde-eenheid, het die gaste ingelig oor die mees algemene soorte dwelms wat in die Middelburggebied aangetref word.
Aanduidings van dwelmmisbruik by kinders is ook uitgewys.
Beveiliging van eiendom en misdaadvoorkoming is ook bespreek en Olivier het waardevolle inligting met die dames gedeel oor voortekens en kodetaal wat deur misdadigers gebruik word wanneer ’n huisbraak of plaasaanval beplan word.
Madelein Hall, eienaar van Precision Beauty, het ’n gelukkige dame onder hande geneem en ’n demonstrasie van vars daggrimering gelewer.
Twee dames is bederf met ’n nekmassering, terwyl Quintessa Nelson meer vertel het van die terapeutiese waarde van professionele massering en hoe pynlike spierspasmas daardeur verlig kan word.
Marnene Smit, projekbestuurder van Hands on Africa, City of Refuge, was laaste aan die beurt.
Vanuit haar ervaring met mishandelde vroue, het sy gepraat oor emosionele mishandeling, hoe dit gebeur en watter hoop en hulp daar vir slagoffers is om uit sulke omstandighede te kom.
Die kombuistee was ’n groot sukses en Middelburg-gholfklub se dames het die borge en teenwoordiges bedank vir hul bydraes.

