VERLEDE Vrydag was die bin-nenshuise sportsaal in Middelburg ’n miernes van bedrywigheid toe die eerste gemeenskapsveiling in dié dorp aangebied is.
Minnaar & De Kock Prokureurs het reeds tallose privaatveilings in die verlede gefasiliteer, maar volgens die eienaar, Ilze Nel, is die aanbieding van ’n veiling waar die breër gemeenskap hul goedere van die hand sit, ’n eerste vir die dorp.
Lede van die publiek is uitgenooi om enige items van waarde na die veilingslokaal by City of Refuge te neem om deur ’n afslaer, Richard Rogers, afgeslaan te word.
Soos met alle eerstes was hierdie veiling ’n groot leerervaring en natuurlik is daar dinge wat sal verander en beter gedoen sal word, sê Nel.
Produkte word op kort kennisgewing afgelaai en anders as by ’n privaat veiling, is dit moeilik om items genoeg blootstelling in die media te gee voor die dag van die veiling. Ons het ook geleer dat items van waarde, groot belangstelling trek, maar dat weggooi- en gebreekte items weinig aftrek kry en soms nie eens ’n bod haal nie.
Nel gee die versekering dat items strenger gekeur sal word in die toekoms, sodat dit ’n volkome veiling van waarde kan wees.
Minnaar & De Kock beoog om die veilings op ’n tweejaarlikse skedule aan te bied en sal die volgende veiling se datum in sowel gedrukte en sosiale media adverteer.