DIE Hoërskool Middelburg maak tans gereed vir hulle Erfenis-naweek wat vanaf 21 tot 23 September in Middelburg sal plaasvind.
Die tradisieryke skool nooi graag alle oudleerders en ondersteuners, reüniegroepe, ouers, leerders en belangstellendes om die feesvieringe by te woon.
Die skool is hierdie jaar 99 jaar jonk en die naweek is slegs ’n “opwarmingsessie” vir die groot feesvieringe in 2019.
Van die aktiwiteite waarna uitgesien kan word vir Vrydag, 21 September is ’n besigtigingstoer deur die skool en ’n aand van vermaak met oud-Middie Ilné Fourie.
Vir die laerskoolleerders word ’n fliekaand beplan, terwyl die hoërskoolleerders saam gaan sokkie!
“As jul maagspiere al die lag van Vrydagaand oorleef het, kan die res van die spiere ingespan word vir Saterdag se sportdag waartydens daar aan fietsry, motorfiets en staproetes en gholf deelgeneem gaan word,” het die skool gesê.
Saterdagaand gaan feesgangers saamkuier en dans terwyl daar gesmul word aan tradisionele Karoo-potjiekos en bygeregte. Die wenners van die onderskeie sportsoorte sal ook dan aangekondig word.
Op Sondag, 23 September, word die naweek afgesluit met ’n erediens in die NG Kerk Moedergemeente.
Verskeie reüniegroepe is reeds besig met hulle beplanning om 21 tot 23 September by Middies saam te trek en ’n hond uit ’n bos te kom kuier.
Vir navrae, kontak MHS by 049 842 1560 of stuur ’n e-pos na middies@adsactive.com.