Middelburg se talentvolle Darren op pad na New York

DIE uiters talentvolle saksofoonspeler van Midros, Middelburg, Darren Jacobus, het behoorlik die dorp aan die gons.


DIE uiters talentvolle saksofoonspeler van Midros, Middelburg, Darren Jacobus, het behoorlik die dorp aan die gons.

Dis met groot trots dat sy ouers Richard en Michelle Jacobus (albei onderwysers by die Middelland Senior Sekondêre Skool), die Mid-Karoo Express in kennis gestel het dat Darren van 3 tot 12 Julie Suid-Afrika in New York, Amerika by die Talent America kompetisie gaan verteenwoordig.

Darren het in April vanjaar SABC 2 se Showville-kompetisie, wat landswyd by verskeie dorpe gehou is, hier in Middelburg gewen. Showville se talentkompetisie, asook ’n onderhoud wat met sy familie gevoer is, sal in Junie op SABC 2 uitgesaai word.

Daarna het Darren eers aan die Talent Africa se provinsiale uitdunne in George gaan deelneem en toe by die nasionale kompetisie in Port Elizabeth sy uitsonderlike talent gaan vertoon. In PE het hy met sy saksofoon behoorlik die beoordelaars se harte gewen.

Hy het drie goue medaljes in die klassieke, kontemporêre en ope afdelings gewen. Hy is ook aangewys as Top 10-instrumentalis, wenner in die instrumentele senior-afdeling en het eerste plek in die ouderdomsgroep van 18 tot 24 jaar behaal.

Hiermee is hy dan ook as die algehele wenner in die senior-afdeling by die nasionale Talent Africa-kompetisie gekroon. As gevolg van hierdie oorwinning, gaan Darren in Julie in New York aan die 45ste Talent America-kompetisie deelneem waar talle musikante, sangers, dansers en modelle hul loopbane begin het.

Darren, wat in 2014 aan die Hoërskool Middelburg matrikuleer het, wil ’n inspirasie vir ander jong mense in die gemeenskap wees. “Hulle moet weet en besef dat die Here vir elkeen ’n talent gee en dat mens dit moet uitleef en ontwikkel tot sy volle potensiaal,” het hy gesê.

Vir Darren is die ondersteuning van die gemeenskap ook baie belangrik. Sedert 2012 is hy by die VGKSA-kerk in Midros betrokke by die Christelike jeugbrigade se orkes waar musiekinstrukteur Franklin John Cupido reeds vroeg al Darren se musikale talent raakgesien het. Met die hulp en afrigting van Cupido, het sy talent ontwikkel tot waar hy vandag as wenner vir Suid-Afrika in New York gaan deelneem.

In 2015 het Darren vir ’n jaar by Rhodes-universiteit ’n instrumentele musikale kursus gaan volg waarna hy verder in Bloemfontein gaan studeer het.

Om in Amerika te gaan deelneem gaan egter met groot onkoste gepaard. Darren benodig minstens R60 000 om sy vliegkaartjie, agt nagte se verblyf en ander uitgawes te kan dek.’n Spesiale bankrekening is by Capitec geopen waarin daar bydraes gemaak kan word. Vrywillige donasies kan in die “Talent America for Darren” rekening by Capitec (rekening nommer 1578858664) deponeer word.

You need to be Logged In to leave a comment.