VANDAG is ’n besonderse groot dag vir Elsie Meyburgh, ’n bekende goue oue van Middelburg.
Sy vier vandag, 7 Junie 2018, haar 90ste verjaarsdag. In Middelburg en die omliggende omgewing ken almal Tannie Elsie en haar man, Oom Bertie, wat ook reeds 90 is.
Met haar haastige stappie, kamera in die hand, verslagboek en skryfding, was sy verskeie jare verbonde as verslaggewer en mondstuk van Die Burger en ook plaaslike koerante.
Sy gaan Saterdag haar groot dag vier met ’n geselligheid waarheen sy haar familie en spesiale gaste genooi het.
As alles volgens plan verloop gaan haar twee dogters, Elana Alberts en Coreli Roos, twee kleinkinders, Elsabé en Ané, asook haar vier agterkleinkinders almal teenwoordig wees.
Tannie Elsie sien ook baie uit daarna om haar enigste broer, Pieter van der Vyver (85), wat spesiaal van Bloemfontein af ry om die naweek saam met haar te kom geniet, te sien.
Die Meyburgh-egpaar is hierdie jaar 65 jaar getroud. Die 90-jarige Oom Bertie is nog self agter die stuur van sy voertuie en die egpaar het onlangs self Gansbaai toe gery.
Waar die een gaan, gaan die ander en plaaslike inwoners geniet dit altyd om die tweetjies so saam-saam gelukkig te sien wandel.
Op 90 is hulle albei werklik ’n voorbeeld vir andere.