Middelburg skou is ’n reuse sukses

MIDDELBURG se inwoners het hulle behoorlik geniet by die jaarlikse skou op 2 en 3 Maart wat ’n propvol program met iets vir die hele familie gebied het.


MIDDELBURG se inwoners het hulle behoorlik geniet by die jaarlikse skou op 2 en 3 Maart wat ’n propvol program met iets vir die hele familie gebied het.

Met ’n totaal van 40 perde wat die naweek deelgeneem het, was die perde-arena verseker een van die hoof besoekpunte van die skou.

Die kleinvee-arena was ook propvol met ’n groot aantal vee en sowat 50 deelnemers het aan Vrydag se jeugskou deelgeneem waar verskeie tipes plaasdiere geskou is.

Ongeveer 130 diere het tydens die Merino-skou deur die arena beweeg voordat die boerbokke en dorpers oorgevat het.

’n Kleinvee-ekspo het ook hierdie jaar plaasgevind waar verskillende rasse uitgestal is.

Weg van die perde- en kleinvee-arena was die skou ook ’n byenes van aktiwiteite. Tydens die jaarlikse ete het Dewald Dippenaar die gaste tot laatnag vermaak en is daar gedans dat die stof behoorlik gedraai het.

’n Pretrit vir die motorfietsgeesdriftiges waartydens 21 motorfietsryers ’n 60km-roete deur Grootfontein voltooi het, is ook aangebied, sowel as die hondeskou waar 22 honde aan verskeie afdelings deelgeneem het.

Die hondeskou, geborg deur Montego Pet Nutrition, se wenners was as volg:

. Lyk meeste soos eienaar: Esse Vorster met Boytjie in eerste plek en Karin van Zyl met Kraai in tweede plek.

. Kleinste hondjie: Eerste is Keylé met Boy George Millan en tweede Sanet Roux met Binky en Tau-Tau.

. Grootste ore: Lisa Hebbelmann met Piper in eerste plek gevolg deur André Roux met Adam in tweede plek.

. Beste soener: Eerste is Karin van Zyl met Kraai en tweede is Liandrie van Staden met Lucky.

. Dress up: Alula Pienaar met Riley het die eerste plek ingeneem met Karin van Zyl met Kraai in tweede plek.

Algehele wenner van die dag was Keylé met Boy George Millan.

Middelburg se heel eerste celebrity cook-off waartydens restaurante van die dorp teen mekaar meegeding het om te sien wie die bobaas kok in Middelburg is, het gesorg vir groot pret onder die inwoners. Karooroos-padstal se Karoo-burger het met die eerste plek weggestap.

Gedurende die twee skoudae het ongeveer 900 besoekers deur die hekke gestap en vir ’n goeie atmosfeer gesorg.

Die Middelburg-skou was ’n groot sukses en die komitee is positief dat volgende jaar se skou net groter en beter sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.